Coronation kry hofbevel teen 3

Deur Liesel le Roux
DIE Coronation Memorial Versorgingsoord in Oudtshoorn het ’n permanente hofbevel verkry teen ’n vorige bestuurder van die oord en nog twee Oudtshoorniete, een van hulle ’n raadslid, wat hulle verbied om die terrein van dié versor­gingsoord in Impalaweg in Bridgton te betree.

Die versorgingsoord sien om na 70 bejaardes.

Die hofbevel spruit onder meer uit onmin vroeër vanjaar tussen werknemers, voormalige bestuurs­lede en die huidige bestuurskomitee van Coronation Memorial, waartydens ’n personeellid na bewering verantwoordelik was vir baie van die optrede wat tot die onmin gelei het, byvoorbeeld deur verpleegpersoneel uit te sluit sodat hulle nie kon werk nie.

Landdros Mia Venter het die hofbevel op 4 Oktober goedgekeur.

Dit verbied Clive Veldsman, ’n vorige be­stuurder van Coronation, Gavin Philander en Calvin Gertse, sedert Augustus vanjaar ’n ANC-raadslid op Oudtshoorn, om die terrein te betree, asook die hekke van die eiendom te sluit.

Veldsman, Philander en Gertse word voorts verbied om die direkteure en werknemers van Coronation te verhoed om die perseel te betree of hulle te intimideer, te dreig of op enige manier te verhoed om hul werksverpligtinge na te kom.