Die verrineweerde volstruiswyfie van Hannes Westenraad wie se vere Dinsdagaand gepluk is. Foto’s verskaf

Die gru-vonds wat Ebon le Roux gemaak het.
Deur Angelique Erasmus
TWEE vermeende volstruisstropers is Maandagoggend omstreeks 05:00 aangekeer nadat twee rugsakke en twee plastieksakke met volstruisvere, -vleis en -eiers by hulle gevind is.
Klaas Moos (54) en Edwin Hartzenberg (20) het albei reeds bekentenisse by die Polisie afgelê en erken hulle het volstruisvere, -vleis en -eiers gesteel.
Moos is in 2015 skuldig bevind aan veediefstal en vyf jaar tronkstraf opgelê. Hy is in Junie vanjaar op borgtog vrygelaat.
Die twee mans is Sondagmiddag deur Johann en Maryke Botha wat op Rooiheuwel boer, op ’n grondpad opgemerk.
“Toe ons oor ’n bult kom, het die mans ons motor gesien en in ’n bloekombos in gehardloop,” vertel Johann.
Hy het die twee mans agternagesit en in die bos op twee blou rugsakke en plastieksakke afgekom.
“Die rugsakke was vol vleis en ongelooflik swaar. Dit verbaas my nie dat hulle die sakke afgegooi het en laat spaande het nie,” sê hy.
Die twee verdagtes het in die rigting van die Kammanassierivier gehardloop en Botha het besluit om veiligheidshalwe die voorval op die gebied se whatsapp-groep aan te meld. Die polisie is toe na die toneel ontbied.
Ebon le Roux wat op ’n aangrensende plaas met volstruise boer, het later die middag op nog ’n gruvonds afgekom. “Ek het ’n dooie wyfievolstruis onder ’n spekbos ontdek. Al haar vere was uitgepluk en die vel afgeslag,” sê Le Roux.
Hy het ook volstruiseiers gekry wat duidelik uit die karkas van die volstruis gesny is.
Die volstruiswyfie se waarde is sowat R7 500.
Le Roux sê hy het sowat drie weke gelede op twee ander volstruiskarkasse afgekom wat vir hul vleis en vere gestroop is.
In September vanjaar het Le Roux groot skade gelei toe een van sy volstruise deur stropers geslag is, en nog vyf ander van kant gemaak moes word nadat hulle in heinings vasgehardloop het.
“Daar is bloed- en vleismonsters geneem van die karkas, vleis in die sakke, en vleis wat by die een verdagte se huis gevind is. Ons wag vir die uitslag van die toetse,” het Le Roux aan Die Hoorn gesê.
• Moos en Hartzenberg het Woensdag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklag van veediefstal.
Die saak is deur landdros Roelf Konstabel tot 8 November vir borg uitgestel.
Die twee mans bly intussen in aanhouding.
In ’n ander voorval op Rooiheuwel het ’n volstruiswyfie op die plaas Ou Werf van Hannes Westenraad Dinsdagaand deurgeloop deurdat van haar vere gepluk is.
Hoewel dié volstruiswyfie nog leef, was daar bloed in haar oor, en is sy vermoedelik met ’n stok of klip oor die kop geslaan.
Haar vere, wat nog nie ryp was vir pluk nie, het erge bloeding tot gevolg gehad, met verskeie plasse bloed wat volgens Westenraad op die grond gelê het.
“Die wyfie is erg getraumatiseer, en sy kan moontlik interne besering ook hê, wat haar toekomstige eierproduksie kan beïnvloed,” sê hy.
Westenraad het die voorval by die Polisie aangemeld.