Tania Smit (middel) by die oorhandiging van haar toekennings saam met dr Peter Baker (links), een van die organiseerders van die Boekbedonnerdfees, en Tracy Going, aanbieder. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
“EK is so dankbaar! Die pad van ’n onafhanklik gepubliseerde skrywer is maar taai en dun gesaai met erkenning. Dit beteken vir my ongelooflik baie!”
So het die skrywer en sakevrou Tania Smit van Oudtshoorn gereageer nadat haar eerste boek, Hekelwoorde van my hart, verlede week twee pryse by die SA Independent Publishers Awards gewen het.
Hekelwoorde van my hart, wat in September 2018 gepubliseer is, was die wenner van die kategorie vir die beste inspirerende boek.
“Die beoordelaars het nie woorde gehad om hierdie boek te beskryf nie. Dit was nie slegs kortverhale nie.
Dit was meer as digkuns. Sommige mense het gesê die skrywer toor met woorde. Een van die vondse van die kompetisie!” lui die kommentaar van die beoordelaars oor Hekelwoorde van my hart.
Tania se boek was ook die naaswenner van die Boekbedonnerd-prys vir die beste self-gepubliseerde boek van 2019.
Die wenners van die 25 kategorieë van die kompetisie is tydens die Boekbedonnerdfees in Richmond bekend gemaak.
Daar is reeds 3 300 eksemplare van die boek verkoop.
Hekelwoorde van my hart kan by www.hekelwoorde. co.za bestel word.