DIE buitenste ruim is sedert die mensdom se bestaan ’n fassinerende en aanloklike “onbekende” wat die nuuskierigheid prikkel en die verbeelding op verre reise neem. Deesdae is die verkenning daarvan die doelwit van biljoenêrs soos Elon Musk en die man wat Amazon begin het, Jeff Bezos.
Maar vir een Calitzdorper, Berto Monard, is die hemelruim – saamgestel uit ons sterrestelsel en hordes rondom dit – ’n skatkis van voorheen onbekende ontploffings en verskynsels waarna hy uur na uur kan staar. Meer onlangs het hierdie kranige amateur-sterrekundige nog ’n supernova ontdek. Dit staan bekend as SN 2022jli en is in die sterrestelsel NGC 157 geleë. Dit is die 144ste supernova wat Monard sedert 1999 ontdek het.
“Ek was nog altyd geïnteresseerd in wat ver in die hemelruim gebeur het, selfs vreemde vlieënde voorwerpe was eens op ’n tyd my belangstelling, maar sterrekunde het op die ou end gewen. Ek hou daarvan om waar te neem en by te dra tot die vooruitgang van wetenskaplike kennis. Die meeste van my huidige waarnemings by die Klein Karoo Observatorium (KKO) is suiwer wetenskaplike pogings op die gebied van astrofisika,” vertel hy. Die sterrestelsel waarna Monard gekyk het, is volgens hom tussen 30 en 80 miljoen ligjare van die aarde af. Die supernova wat hy daar opgemerk het, was ’n verskynsel van die eindstadium van ’n super-reusester aan die einde van sy lewe, wat ineengestort het.
“Hierdie sterrestelsel was die afgelope twee maande agter die son en sy omliggende glans, en kenners het verwag dat dit binnekort sou verskyn. Ek moes sekerlik die eerste waarnemer gewees het wat na dit gekyk het toe dit agter die son uitkom, en ek het die nuwe ster daarin op my teleskoop se CCD-beelde gesien,” sê Monard.
Dit neem volgens Monard nogal baie intensiewe werk om dié beelde te verwerk, en uiteindelik te sien en te identifiseer waarna jy gesoek het, veral met die knaende kommer dat iemand anders dit moontlik reeds ontdek en gerapporteer het. Hy het dus vinnig gewerk en sy bevinding met die gepaste inligting soos waar, wanneer en hoe die supernova ontdek is, op die Transient Name Server-webtuiste gelaai, waar sy bevinding amptelik erken is.
Monard sê al beteken so ’n ontdekking nie veel vir Jan Alleman nie, help dit beslis die studieveld van astrofisika.
Monard se KKO is aan die einde van 2010 gebou en toegerus. “Dit is die moeite werd om daarop te let dat alle waarnemende instrumente en rekenaars wat tot vandag toe in sterrewagte (observatoriums) soos die KKO gebruik word, ‘oud’ is en deesdae afgeskryf word, maar solank myne aanhou werk, sal waarnemingsdata ingesamel word en kan ontdekkings van enige aard verwag word.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
.
Calitzdorper ontdek supernova – sy 144ste sedert 1999
Berto Monard van Calitzdorp by sy teleskoop. By die KKO gebruik Monard ’n 30 cm Meade RCX400 teleskoop met ’n SBIG ST8-XME CCD-kamera (Foto verskaf)