DIE Calitzdorper Carel Nel, keldermeester en mede-eienaar van Boplaas, is Saterdag by die jaarlikse toekenningsfunksie van Veritas by Val De Vie in die Paarl met ’n Lewende Legende-toekenning vereer.
Dié Lewende Legende-toekennings word aan leiers in die wynbedryf toegeken wat gehelp het om die integriteit van die bedryf op te bou en die kwaliteit van wyne in Suid-Afrika te verbeter.
Nel het aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer en word erken vir die rol wat hy gespeel het om die kwaliteit van port in Suid-Afrika tot wêreldgehalte te verbeter.
Hy was ’n stigterslid en die eerste voorsitter van die Kaapse Portprodusentevereniging en onder sy voorsitterskap het Suid-Afrikaanse port asook tafelwyne gemaak van Portugese kultivars tot wêreldklas verbeter.
Hy was ’n stigter en eerste voorsitter van die Calitzdorp Portfees, en is een van slegs drie wynmakers in Suid-Afrika wat lede van die gesogte Kaapse Wynmakersgilde én ’n Kaapse Wynmeester is.
Onder sy leiding is Boplaas wyd bekroon, onder meer met met 10 SA kampioenport-trofees; twee SA kampioentrofees vir Sauvignon Blanc en een SA kampioen-trofee vir ’n rooi versnit by die SA Jongwynskou. Boplaas het al 28 dubbelgoue medaljes by Veritas ontvang en het 11 keer vyf sterre in die Platters-wyngids ontvang vir sy port, brandewyn en muskadel.
In 2005 is Boplaas deur Veritas aangewys as die beste privaatkelder in die land, en in 2009 en 2013 as die land se beste kelder. In 2019 is Boplaas deur die Michelangelo-wyntoekennings aangewys as die land se beste produsent.
Carel sê hy is trots om saam met sy drie kinders, Rozanne (bemarkingsdirekteur), Margaux (wynmaker) en Daniel (distillering en bemarking), te werk en die familietradisie voort te sit van wyn en brandewynproduksie sedert die1880’s. Sy vrou, Jeanne, is betrokke by die finansiële en algemene administrasie van Boplaas.
Drie dubbelgoud en twee goud vir Boplaas
Boplaas is die naweek by Veritas met drie dubbelgoue en twee goue medaljes bekroon. Die dubbelgoue medaljes is toegeken vir Boplaas se:
- Cape Vintage Reserve Port 2017 (ook al bekroon as SA kampioen by die Jongwynskou; port van die jaar in die Platters-wyngids; en beste SA port by die Trofeewynskou);
- Cape Vintage Reserve Port 2015;
- Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2006 (ook al wyd bekroon, onder meer as beste SA port by die Michelangelo).
Die twee goue medaljes is aan die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2016 en die Cape Vintage Reserve Port 2009 toegeken.
