Britz die wenner van Woman of Stature Awards South Africa

Nadia Britz met haar toekennings en trofee wat sy in die kategorie vir kuns en kultuur gewen het. Die glansgeleentheid het op Saterdag, 13 April 2024 in Johannesburg plaasgevind. Die toekenningsgeleentheid is deur Charlotte du Plessis, stigter en hoof- uitvoerende beampte van Woman of Stature South Africa, gestig. Foto: verskaf

Op 13 April 2024, is Oudtshoorn se eie Nadia Britz tydens ’n glansgeleentheid as die wenner in die Vrou van die Kunste en Kultuur-kategorie by die Woman of Stature Awards South Africa, in Johannesburg, by die Indaba Hotel aangewys.

Hierdie toekennings is ’n gesogte platform wat nie net vroue bemagtiging nie, maar ook hul prestasies in hul verskeie velde vanaf 2013 reeds vereer.

Britz is die eienaar van die Pro Academy-dansstudio in Oudtshoorn en Grootbrak.

Oor die afgelope 13 jaar het Britz ’n geweldige groot impak in haar gemeenskap gemaak deur by te dra tot verskeie liefdadigheidsorganisasies, en ook haar passie vir dans met baie te deel.
Haar Akademie bied dansklasse vir kinders vanaf 3 jaar en ouer aan in verskeie dansgenres wat sy met passie aanbied.

Britz glo dat dans gebruik kan word as ’n hulpmiddel om ’n positiewe verandering te bewerkstellig. Die Woman of Stature Awards South Africa erken nie net die individuele prestasies van die kategoriewenners nie, maar ook die gesamentlike uitnemendheid van al die finaliste.

Na die bywoning van verskeie werkswinkels het meer as 80 genomineerde dames deurgedring na ’n streng beoordelingsproses, voordat die inspirerende kategoriewenners gekies is.

Op die vraag aan Britz oor wat haar leuse in die lewe is, het sy geantwoord: “if you set your mind to it, through hard work and prayer, you can do it”, het sy aan Die Hoorn gesê.

Ken jy ’n uitmuntende vrou wat ’n verskil in haar gemeenskap maak en ander se lewens aanraak, nomineer haar deur na die volgende skakel te gaan en die stappe te volg: tinyurl.com/NOMINATE-WOS-AWARDS-2025. (Deur Lindi Brill)