DIE uitgerekte hofsaak teen ’n voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne, Johan Brits, is in die Oudtshoorn Streekhof tot 2020 uitgestel nadat die verdediging die hof oortuig het om voort te gaan met sy aansoek om hersiening van Brits se skuldigbevinding.
Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlope, het in Mei vanjaar geweier om die hersieningsaansoek op die hofrol te plaas en dit terugverwys na die Oudtshoorn Streekhof waar streeklanddros JC Nortje Brits skuldig bevind is op 23 aanklagte van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte.
Volgens die staatsaanklaer, adv Louis van Nie-kerk, moet ’n datum nou bepaal word waarop ’n aansoek om verlof tot appèl in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gebring sal word.
Brits voer aan dat landdros Nortje gefouteer het in sy uitspraak deur ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toe te laat en toelaatbare of bevoegde getuienis te ignoreer. Die staat staan die aansoek teen.
Deur Garnett Wicomb