’N VERWOESTENDE brand het gister teen druktyd van Die Hoorn reeds reeds oor ’n gebied van sowat 13 km in Gamkaskloof (Die Hel) verwoesting gesaai.
Die brand het sowat 35 km van die Swartbertgpas af gewoed.
Die pad na Gamkaskloof is gister gesluit en sal tot 2 Desember gesluit wees sodat opruimingswerk kan geskied.
Die brand het Maandag omstreeks 15:00 uitgebreek, maar die oorsaak is nog onbekend. Daar word egter vermoed dat ’n sigaretstompie die oorsaak kon wees.
Die bekende gasteplaas Die Fontein in Gamkaskloof het sulke groot skade gely dat verblyfbesprekings vir die volgende ses maande gekanselleer moet word.
“Ons het een selfsorgeenheid in die brand verloor, en ons tentekamp, vyf karavane en ons kampeerplek met al 15 staanplekke is verwoes,” het Marinette Joubert, bestuurder van die gasteplaas, aan Die Hoorn gesê.
Die waterpypstelsel is ook heeltemal deur die brand verwoes.
“Ons moet al ons besprekings tot volgende jaar April kanselleer, maar ons kan steeds dagbesoekers by ons restaurant akkommodeer,” sê Joubert.
Dirk Smit, gebiedsbestuurder van die Fire Protection Association in die Suid-Kaap, het gister gesê die brand is onder beheer.
“Twee spanne aan die Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit is op gereedheidsgrondslag geplaas ingeval die brand weer buite beheer raak,” het Smit gesê.
Die twee spanne bestaan uit sowat 30 lede.
Volgens Smit fokus hulle op die beveiliging van eiendom.
“Die veld waar die brand tans is, is jong veld omdat dit nie te lank gelede gebrand het nie.
“Dit maak die brandgevaar kleiner.”
Spanne van CapeNature in die gebied moniteer ook tans die situasie.
Loren Pavitt, woordvoerder van CapeNature, het die publiek gevra om die gebied te vermy aangesien dele steeds brand.
Sy sê daar is drie van hul spanne op die toneel, saam met sowat 25 brandweermanne.
Deur Angelique Erasmus