Brand woed by dam na wind en hitte hier

Die Raubenheimerdam-omgewing waar ’ n brand Dinsdag ontstaan het. Foto verskaf

Die vrag wat in die trok se sleepwa was, het aan die brand geslaan en dele van die veld in die Swartbergpas aan die brand gesteek. Foto verskaf

’N TROK wat die naweek die pad byster geraak het op die Swartbergpas met die sleepwa wat aan die brand geslaan het, en ’n veldbrand wat Dinsdag naby die Rau­benheimerdam buite Oudtshoorn uitgebreek het, het baie aandag van inwoners van die omgewing gekry.

Raubenheimerdam-brand
Die brand wat teen gister nog naby die Raubenheimerdam gewoed het, het Dinsdag (29 November) te midde van die kwik wat tot 42 grade Celcius gestyg het en ’n sterk wind wat begin waai het, uitgebreek. Die Oudtshoorn Brandweer, bygestaan deur die brandweer van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit se brandweer, het Woensdag teen druktyd steeds probeer om die vlamme onder beheer te bring. Sterk wind het die proses belemmer.

Geen lewens of eiendomme was teen gister in gevaar nie, en volgens die die woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Aurelia Mle, is geen huise beskadig nie, en is geen beserings aangemeld nie.

Die brand wat in ’n groot mate gisteroggend onder beheer was, het volgens Mle gisteroggend onverwags aan die suidelike kant van die dam opgevlam, maar ’n brandweerspan was op die toneel om verdere verspreiding te probeer beperk.

Daar is vroeër die week ’n weerwaar­skuwing uitgestuur wat inwoners en boere van die omge­wing teen sterk wind en hoë temperature ge­waarsku het.

Trok-sleepwa slaan aan die brand
Saterdagaand (26 November) het die sleepwa van ’n Mercedez Benz-trok na bewering op die Swartbergpas buite Oudtshoorn losgekom, die pad verlaat en met die vrag wat dit vervoer het aan die brand geslaan waar dit langs die pad beland het.

Die voorval het omstreeks 23:00 plaasgevind en niemand is beseer nie.

’n Gedeelte van die veld het ook aan die brand geslaan. Die Oudtshoorn Brandweer is ontbied om die brand te blus.

Die Hoorn kon vasstel dat die trok se GPS die bestuurder na die pas geneem het.
Volgens lt kol Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, word geen saak ondersoek nie aangesien geen formele klag gelê is nie. (Deur Angelique Erasmus en Stefan Skapie Goosen)