Aftrede na 30 jaar

Annette Theron (middel), apteker-assisstent, saam met Jan-Dirk Brak (links) en Victor Botes. Foto: Deon Meyer

NA bykans 30 jaar diens by die enigste apteek op Ladismith het die eindfluitjie nou vir Annette Theron ge­blaas.

Sy het gister, Woensdag 30 November om 17:00, die laaste keer by die deure van die Ladismith Apteek uitgestap. Sy sê haar gesondheid is die enigste rede waarom sy die apteek moet groet.

Annette het in 1987 aan die Hoërskool Calitzdorp matrikuleer en Mei 1993 by die apteek, toe nog Blom’s Apteek, by Hennie en Gertie Blom begin werk het.

“In Julie 1998 het Gerrie en Moni­ca Haasbroek die apteek oorgeneem. Oom Gerrie het my ingeskryf vir ’n ap­tekers-assistentkursus en in 2003 het ek dit suksesvol voltooi,” vertel sy trots.

In 2019 het Victor Botes en Jan-Dirk Brak die apteek oorgeneem. ’n Gesprek met die vennote laat mens besef hoe waardevol Annette vir die apteek was.

“Anette het ’n probleem met haar bene, maar sy het nooit gekla nie, selfs al sou jy haar daaroor pols,” sê Victor. Sy was die ruggraat van hier­die apteek en het die meeste pasiënte so goed geken het dat sy al geweet het watter medikasie die persoon kom afhaal.

Jan-Dirk sê dat dit vir die hele dorp ’n aanpassing gaan wees om nie vir Anette in die apteek te gewaar nie. Haar kollegas agter die kasregisters, Hayleen Hartman en Adele Bell, se oë skiet vol trane wanneer hulle oor “tannie Annette” praat.

“Sy het ons alles geleer wat ons vandag weet. Tannie Annette het nooit haar stem vir ons verhef nie.

Sy het altyd haar boodskap op ’n kalm, bedeesde manier oorgedra.”

Kliënte se reaksie op haar aftrede is dié van verbasing. “Wie gaan nou my goed verpak, of bel om my te herinner van my medikasie?” het een gevra.

Dit is duidelik dat Annette gemis gaan word, maar soos sy self sê: “Danie, my man, moet ook nou darem bietjie bederf word.” (Deur Deon Meyer)