ReWOLusie brei en hekel speelgoed

Van die wonderlike vroue wat meer as 800 beertjies gebrei en gehekel het om kinderhartjies bly te maak. Foto: Verskaf

BREI- en hekelentoesiaste is die afgelope drie maande al druk besig met ’n Re­WOL­usie-projek wat hul saam met die Oudts­hoorn Rotariërs aangepak het.

Meer as 800 beertjies is vanjaar gebrei of gehekel, en sal as deel van die Oudts­hoorn Rotariërs se Krismisboks-projek uitgedeel word. Hierdie projek is reeds in 2015 aangepak, en daar word jaarliks bokse met geskenke aan minderbevoorregte kleuterskole in die Oudtshoorn-distrik uitgedeel.

“Elke persoon kan ’n bydrae maak om ’n kind se hart bly te maak. Die vreugde en liefde wat ons aan ons eie gemeenskap se kinders kan uitdeel, is regtig priceless,” sê Lezelma Pretorius, organiseerder namens die Oudtshoorn Rotariërs.

Hoe die gemeenskap met hierdie projek saamstaan, is vir Pretorius ’n wonderlike aanduiding van ware ubuntu.

Dié beertjies en Krismisbokse word op 8 en 9 Desember 2022 by kleuterskole in die streek uitgedeel.

Wol vir dié projek is geskenk deur Wilck Wolwinkel op Oudtshoorn.

ReWOLusie is ’n gemeenskapsprojek wat by die KKNK in 2019 die lig gesien. Unieke items word met baie liefde en met die hand deur deelnemers geskep.

Vaardighede word hier oorgedra en lewenslange vriendskappe gebou.

Hierdie deelnameprojek word deur die KKNK gefasiliteer en gee jaar na jaar terug aan Oudtshoorn. (Deur Angelique Erasmus)