Broers hoofleiers by verskillende skole

Hawlet (links) en Clayton-Charles is beide hoofseuns van hul onderskeie skole op Ladismith. Foto: Deon Meyer

DIT gebeur nie aldag dat twee broers as die hoofseuns by twee verskillende skole gekies word nie, en boonop op dieselfde dorp!

Dit is wat die twee Brutus-broers, Hawlet (14) en Clayton-Charles (18), reggekry het. Hawlet is verkies tot die hoofseun van Towerkop Primêr vir 2023 en Clayton-Charles tot die hoofseun van Hoërskool Ladismith vir 2023.

“Towerkop Primêr het 1 200 leer­ders en die uitdaging is groot, maar ek is gefokus vir my leiertaak,” sê Hawlet. “Ek wil hê leerders moet hul werk ernstig opneem en dissipline bemeester. Ek hou van wiskunde en wil graag ’n wiskunde-onnie word. Ek leer ook baie by boeta Clayton-Charles.”

Die broers is wiskunde-koppe en albei kranige sportmanne. Hawlet was sportman van die jaar en het vir SWD se skolerugbyspan uitgedraf.

“Ek wil eendag goeie geld verdien, want opvoeding lig mens uit swaarky uit. Ek wil op ’n olieboor gaan werk,” sê Clayton-Charles. Hy was sy skool se topleerder in graad 11.

Caylinn, hul ma, is nie bietjie trots nie. “As enkelouer is dit soms maar moeilik. Ons moes 600 km verhuis na ’n dorp waar ons niemand geken het nie weens werksomstandighede en dat ek vir hulle kan sorg. As ouer moet ’n mens jou opvoeding vertrou. Ek is trots op my twee manne se besondere prestasie!” (Deur Deon Meyer)