
Regs: Van links is Boetie van Eik, Novi van Eik en Bert Lintveldt tydens hul gesprek met Die Hoorn, wat – soos deesdae dikwels die geval is – via ’n WhatsApp-video-oproep tussen Oudtshoorn en Ladismith geskied het.
HY het twee weke gelede op Erfenisdag sommer 10 eksemplare van Die Hoorn gekoop waarin ’n berig was oor die braaikaasters wat hy, Werner (Boetie) van Eik (30) en Zenovia (Novi) van Eik (23) maak, vertel Bert Lintveld (63) van Ladismith Maandag met ’n glimlag.
Hoewel die Erfenisdagstorie oor die braairoosters in die vorm van ’n kitaar wat die drie Ladismitters maak, land- en wêreldwyd aanlyn te lees en te sien was en ook televisiedekking gekry het, was Die Hoorn die enigste koerant in die Wes-Kaap waar die storie ook op papier en mét foto’s te lees was.
Bert vertel hy het die oggend die koerant sonder om iets te sê, op die werkstafel neergesit met die berig oor hulle na bo. “En toe Boetie dit sien, kon ek net die skielike verbasing en ongeloof op sy gesig sien.”
“My mond het net oopgeval!”sê Boetie.
Dié drie Ladismitters se lewens is van daardie oggend af vol opwinding en hoop vir die toekoms.
Skielik het mense kennis geneem van die werk wat hulle doen.
Skielik het mense uit plekke soos Durban en Pretoria voor Bert se huis stilgehou om te kom kyk na die braaikaasters wat hulle maak of daarvan te bestel.
En deesdae keer mense hulle selfs op straat voor om te vertel dat hulle oor hulle gelees het of hulle op televisie gesien het.
“Ek moet sê, die beste van alles was die televisie!” sê Novi en vertel ook dat haar en Boetie se families baie trots is op hulle.
Deesdae lyk hul groot droom om uit te brei en werk te skep in die Klein Karoo en Ladismith na iets wat wel gaan gebeur.
Dié droom van werkskepping het tydens die pandemie in gesprekke tussen hom en Willim Welsyn (36) ontstaan, vertel Bert.
Willim, ’n bekende liedjieskrywer en rock-sanger wat oorspronklik van Ladismith kom, was die ontvanger van die heel eerste vlekvrye staal-braaikaaster wat Bert gebou het – ’n verjaarsdaggeskenk wat Bert in 2018 spesiaal vir hom gemaak het.
Nog mense wou daarna braaikaasters koop. Bert het eers vir Boetie en daarna vir Novi aangestel en hulle opgelei om hom te help met onder meer die sweiswerk en die polering van die staal. Sedertdien het hulle reeds 100 van die unieke braaikaasters gemaak in hul werkplek in Bert se motorhuis.
Nadat hulle tydens die pandemie begin droom het van uitbreiding en werkskepping, het Willim aan die werk gespring en ’n fondinsamelingprojek op Erfenisdag op die Thundafund-plaftform geloods (https://www. thundafund.com).
Die week was R118 750 reeds ingesamel, Volgens Bert beoog hulle om in Januarie die motorhuis op te knap en te omskep in ’n klein fabriek, asook om gereedskap te koop en te bou sodat meer as een braaikaaster op ’n keer gebou kan word.
Beriggewing sedert Erfenisdag het reeds bestellings vir meer as 800 braaikaasters laat instroom.
“Ek besef net watter uitstekende werk Willim gedoen het om die projek onder mense se aandag te bring. Ons is nederige mense en kan net dankie sê vir hom en ander dat hulle ook dink dat ons produk, ’n hartsding wat ons maak, belangrik is.”
Die groot uitdaging nou is om soveel moontlik van die bestellings teen die eerste week in Desember af te handel.
“Ons sien hierdie as ons poging om mense in die Klein Karoo wat swaarkry te help. Om mense egter vir hierdie werk op te lei, is ’n tydsame proses en ons het gedink om aanvanklik ’n paar goeie vakmanne op die dorp te vra om ons te help om van die onderdele te maak en so te begin.
“Die hele idee agter die befondsing is om ekstra gereedskap aan te koop en te maak wat die werksproses kan bespoedig, en dan ook om mense uit die gemeenskap op te lei.”
Omdat elke deel van die braairoosters met die hand gemaak en gepoleer word “totdat jy jou weerkaat- sing daarin kan sien”, neem dit tans sowat ’n dag om een te bou.
Elke braaikaaster bestaan uit meer as 30 onderdele waarvan baie self deur Bert ontwerp en gebou is. Die skarnier van die rooster, wat uit vyf dele bestaan, is ’n voorbeeld hiervan en so ontwerp dat jy nie iemand nodig het om die rooster se deksel vir jou vas te hou nie.
Die huidige braaikaasters is ook nie al wat in die toekoms uit dié werkswinkel gaan kom nie. Daar is reeds planne vir ’n banjo-braairooster vir die liefhebbers van elektriese kitare ’n stratobraaikaaster, asook drome oor talle ander produkte.
• Vir die fondsinsamelingsprojek gaan na https://www.thundafund. com of na http://williamwelfare.com (Deur Liesel le Roux)