Borgtog vir twee rowers ná beswaar oor die hofprosedure

Deur Garnett Wicomb
BORGTOG van R3000 elk is in die Oudtshoorn Streekhof aan twee broers toegestaan wat reeds aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is en gevonnis sou word.

Die borgtog het gevolg toe een van hulle beswaar aangeteken het teen hofprosedures wat nie gevolg is nie.

Terrance en Clint Draai is daaraan skuldig bevind dat hulle ’n man met ’n mes gedreig en van ’n vetkoek, sy selfoon, R20 kontant en sy ID-dokument beroof het.

Clint Draai het ont­ken hy was op die toneel en het gesê hy loop nooit met skerp voorwerpe rond nie.
Volgens hom was hy ook op parool en kon hy nie sy huis verlaat behalwe vir werk- en kerk­doeleindes nie.

Hy het glo die eerste keer in die hof gehoor van die betrokke dag se gebeure.

Sy weergawe is egter deur die hof verwerp.

Terrance Draai het net voordat die hof met vonnisoplegging wou begin, gekla dat uitspraak gelewer is voordat sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, die hof toegespreek het.

Nadat die hof na bandopnames geluister het, het streeklanddros Ntsoki Moni gelas dat die oor­konde getik en vir hersiening gestuur moet word.

Sy het daarna borgtog van R3000 elk aan die twee broers toegestaan.

Die saak teen die Draai-broers is tot 2 Augustus 2019 uitgestel.