Bejaarde naby kafee op Oudtshoorn beroof

George Peet. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
’N 70-JARIGE man van Oudts­hoorn, George Peet, is Maandag­oggend van ’n bedrag kontant en inkopies beroof toe hy krag wou koop by die Indraf Kafee op die dorp.

Die kafee het egter nie krag beskikbaar gehad nie, en hy het met St Saviourstraat huis toe begin stap toe die voorval plaasvind.

Volgens sy seun, Theo Peet, het twee onbekende persone sy pa van sy beursie beroof.

“My pa was besig om huis toe te stap toe hy ’n skop in sy rug kry.

“My pa het sy balans verloor en met sy kop teen die randsteen geval.”

Volgens hom het sy pa sy bewus­syn verloor en eers wakker geword toe die Polisie hom wakker maak.

Sy beursie met meer as R900 en al sy bankkaarte, sowel as sy inkopies by die kafee was gesteel.

Theo het op die Facebook-blad Oudtshoorniete staan saam gevra dat enige persone wat inligting oor die voorval het na vore moet kom.

Hy sê daar kan op die kafee se kringtelevisie gesien word hoe een van die vermeende rowers oor sy pa se skouer loer terwyl sy pa vir sy inkopies betaal.

Twee mans was vermoedelik by die voorval betrokke.

Volgens ooggetuies het twee mans die slagoffer in St Saviour-straat ingewag.

’n Minibus-taxi het by George Peet gestop om hom te help nadat hy aangeval en beroof is.

Die Polisie het hom ná die voorval na die Polisiekantoor geneem waar hy ’n verklaring afgelê het.

Sy familie het hom later hospitaal toe geneem waar dokters volgens Theo bevind het sy niere is gekneus en dat hy swelling op die brein het.

Hy is intussen ontslaan en sterk by die huis aan.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is daar nog nie ’n saak by die Polisie geregistreer nie, maar moedig hy enige persoon aan wat ’n misdaadslagoffer is om ’n klag by die Polisie te gaan indien.

Peet het gister ’n amptelike klag by die Oudtshoorn Polisiekantoor gaan indien.