Borge gesoek vir brandstof of die vervoer vir droogtehulp

Deur Angelique Erasmus
DIE South African Water Warriors het die week ’n dringende beroep gedoen op enige instansie of besigheid wat bereid sal wees om vervoer of brandstof te borg om skenkings vir boere in Oudtshoorn te kry.

Pieter du Plessis, lid van die South African Water Warriors in die Suid-Kaap, sê daar is tans 70 ronde bale voer in Aliwal-Noord asook nog 70 ronde bale en 35 ton mielies wat vanaf die Koppies-omgewing in die Vrystaat na Oudtshoorn moet kom.

Die Water Warriors het reeds op twee verskillende geleenthede vanjaar skenking in Oudtshoorn afgelewer.

Die eerste was in April vanjaar toe 40 landbouer-gesinne en 80 plaaswerkergesinne by die skenkings baat gevind het.

In Mei is daar onder meer 30 ton maketaan aan Oudtshoorn-boere geskenk vir voer.

Die Water Warriors beoog om nog ’n groot vrag skenkings in Juliemaand na die dorp te bring.

Enige persone wat bereid is om te help, kan Du Plessis by 076 844 6435 kontak.

Oudtshoorn gaan tans gebuk onder die ergste droogte in onlangse heugenis.