Natasha Mei in haar rolstoel. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Oudtshoorn wat sy saamleefmaat so ernstig aangerand het dat sy vandag met ’n rolstoel oor die weg moet kom, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind.
Vonnisoplegging is tot vandag (6 Junie) uitgestel.
Die 38-jarige Enver Campher het tereg gestaan op ’n aanklag van poging tot moord op die 34- jarige Natasha Mei.
Die aanranding het oor die naweek van 24 tot 29 Augustus 2017 in die huis van sy suster, Ashley Campher, plaasgevind.
Streeklanddros Retha Pretorius het bevind dat Campher nie die direkte opset gehad het om Mei dood te maak nie. Hy was egter, volgens sy eie getuienis, verantwoordelik vir die beserings wat sy opgedoen het.
Sy kan vandag amper niks vir haarself doen nie.
Die hof het Ashley Campher as ’n baie swak getuie bevind. Haar getuienis was vol onwaarskynlikhede, weersprekings en leuens, het die landdros gesê.
Sy het getuig dat sy nooit uit die huis kon kom nie, terwyl haar saamleefmaat, Willem Jullies, getuig het dat hy altyd die huis se sleutels op ’n kassie voor hul bed los.
Ashley is ook die Maandag winkel toe terwyl dit ook onwaar is dat ’n kas voor die venster gestaan het. Voorts het sy leuens vertel oor die selfoon van haar saamleefmaat wat sy glo nie kon gebruik nie.
Die hof het Emmeretia van Hansen en Jullies as betroubare getuies bevind terwyl die getuienis van ’n geneesheer wat Mei behandel het, ook nie in geskil is nie.
Enver Campher self was volgens die landdros ook ’n swak getuie.
Hy het aanvanklik getuig dat hy Mei drie keer met ’n lyfband geslaan het, maar het dit later ontken.
“Die hof is tevrede dat die klaer tussen 24 en 29 Augustus 2017 in die teenwoordigheid van Camp-her was en dit is duidelik dat baie geweld gebruik is om haar die beserings te laat opdoen,” het die landdros gesê.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het vir tronkstraf van ten minste vyf jaar gevra.
Hy het gesê direkte gevangenisstraf is die enigste gepaste vonnis en dat die gemeenskap se vertroue in die regstelsel daarmee versterk sal word.
Alhoewel die beserings wat die klaer opgedoen het volgens die dokter nie lewensgevaarlik was nie, was dit baie ernstig.
Sy kon vir dae nie praat nie en eers baie later ’n verklaring aan die polisie aflê.
Voorts kan sy nie duidelik onthou wat presies met haar gebeur het nie.
Volgens Vister sal dit naïef wees om te dink dat die beserings wat Mei opgedoen het, nie gelei het tot haar huidige toestand nie.
“ ’n Vrou se lewe is onherroeplik verander. Sy kan nie meer doen wat sy voorheen gedoen het nie.
“Dit gaan my verstand te bowe dat iemand so iets aan jou maat kan doen.
“Die beskuldigde het hom nie eers gesteur aan die beseerde, bebloede vrou nie en was regtig harteloos,” het Vister betoog.
“Geweldsmisdade, veral teenoor vroue, vier hoogty op Oudtshoorn en daarom kom gemeenskapsbelang sterk na vore.”
Vister het aangedui dat Campher nie ’n eerste oortreder is nie en geen respek vir sy saamleefmaats toon nie. Hy het ook sy eerste vrou mishandel.
Campher se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het toegegee dat sy kliënt nie juis berou toon nie en aan ’n ernstige misdaad skuldig bevind is. Hy het ook reeds die voordeel gekry deurdat hy nie aan poging tot moord skuldig bevind is nie.
Volgens Roos sal ’n vonnis waarvan ’n gedeelte opgeskort word, nie heeltemal onvanpas wees nie.