Borgaansoek van musiekonderwyser gaan op 10 Februarie voort

Die bekende musiekonderwyser van Oudtshoorn wat op 10 Januarie op seksuele aanklagte in hegtenis geneem is, se borgtogaansoek het Dinsdag 28 Januarie in die streekhof begin.

Sy eerste verskyning om borgtog was op 23 Januarie waarna dit na die streekhof oorgeplaas is. Die aanvanklike klagte was verkragting en seksuele gereedmaking van ’n minderjarige.

Die staat het Dinsdag tydens die borgtogaansoek egter die klagte van verkragting teen die musiekonderwyser teruggetrek.

Hy word nou aangekla van statutêre verkragting van ’n minderjarige meisie, seksuele aanranding en seksuele gereedmaking.

Die borgaansoek het eers laatmiddag begin en is na die verstryking van hoftyd tot 10 Februarie uitgestel wanneer die ondersoekbeampte, ao Wanita Uys, geroep sal word om te getuig.

Die staat het met die aanvang van die aansoek die hof meegedeel dat die klagte van verkragting teen die 31-jarige applikant teruggetrek word.

Die dade met die 13-jarige meisie vir wie die verdagte klavierlesse gegee het, is volgens die klagstaat in 2024 gepleeg.

Die verdagte het homself op 10 Januarie vanjaar aan die polisie oorgegee nadat hy van die klagtes verneem het.

Die hof het Dinsdag ook gehoor dat hy as student aan die Universiteit van Stellenbosch van verkragting van ’n vrouestudent en aanranding van ’n mansstudent aangekla is.

Twee van sy vrien-dinne het destyds ook interdikte teen hom bekom.

Landdros N Khan het die saak op versoek van die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, vir die getuienis van die ondersoekbeampte, a.o Wanita Uys, uitgestel.

Die verdagte het tydens sy loopbaan as klassieke pianis reeds wêreldwyd op verhoë en by feeste in Oudtshoorn en elders in die land opgetree.

Sy idenititeit mag eers bekendgemaak word nadat hy in die hof gepleit het.

Hierdie reël is van toepassing op alle seksuele klagtes in howe.

Charnelle Nel-Bruce van die plaaslike regshulp-raad verskyn namens die verdagte.

Die feit dat sy moeder werkloos is en hy haar finansieel moet ondersteun word as rede vir sy aansoek om borgtog aangevoer. (GARNETT WICOMB EN HANNES VISSER)

Be the first to comment on "Borgaansoek van musiekonderwyser gaan op 10 Februarie voort"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*