Boplaas se port en Touriga beste in land!

Margaux Nel, wynmaker, by van die 2021-kampioenwyne. Foto verskaf

BOPLAAS Landgoed in Calitzdorp het die Klein Karoo se naam hoog gehou by vanjaar se National Wine Championship waar sy Cape Vintage Reserve Port 2017 aangewys is as Suid-Afrika se beste port! Dit is ook aangewys as die beste gefortifiseerde wyn (soetwyn) in Suid-Afrika.

Boplaas se 2019 Touriga Nacional is boonop by die kampioenskap aangewys as die beste Suid-Afrikaanse Touriga. Dit is ’n veer in die hoed vir Margaux Nel, een van die wynmakers van Boplaas, wat haar MSc-graad met spesialisasie in Touriga Nacional behaal het.

Boplaas se prestasies volg op die wynplaas se toewyding om kwa­liteitwyne te maak, sê Carel Nel, eienaar en ook wynmaker van die landgoed.

Drie wyne, die Cape Tawny Port, Cape Vintage Reserve 2017 en 2019 Touriga Nacional, is voorts onder die Top 100 Suid-Afrikaanse wyne geplaas. Die Boplaas Cape Vintage Reserve 2019 en Boplaas Gamka Rooi Versnit 2017 het terselfdertyd dubbelgoue medaljes gewen.