Blossoms-droogteprojek kry fondse vir voltooiing

WERK aan die laaste gedeelte van ’n droogteprojek om water van diepwa­ter­boorgate by Blossoms na Oudts­hoorn te bring, is weer in volle swang nadat sowat R47,15 miljoen onlangs van die Departement Water en Sanitasie (DWS) ontvang is.

’n Vorige skenking van R50 mil­joen van die DWS vir dié droogte-projek van R100-miljoen is gebruik vir die ontwerp van die pyplyn, aankoop van die meeste van die materiaal vir die pyplyn en boorgate en die voltooiing van die eerste sowat 6 km daarvan.

Die verskil tussen die R50 miljoen wat nog benodig word en die R47,15 miljoen wat ontvang is, sal die munisipaliteit self moet befonds.

Volgens Chris Swart, senior bestuurder water en riool by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, loop die laaste sowat 15 km van die pyplyn tussen die ingang na Oudtshoorn vanaf George en die Blossoms-boorgate.

Daar sal binnekort begin word met werk aan die eerste sowat 5 km van die laaste stuk pyplyn, maar voordat werk aan die res van die pyplyn voorgesit kan word, sal gewag moet word vir ’n hofuitspraak oor twee grond­eienaars wat sekere voorwaardes stel vir die lê van die pyplyn oor hul grond. Die munisipaliteit kon nog nie ’n ooreenkoms met dié twee grond­eienaars bereik nie.

Dagvaardigings vir die hofproses is reeds is op die twee grondeienaars beteken.

Daarna moet die drie boorgate by Blossoms ook nog toegerus word en ’n pompstasie daar gebou word as­ook ’n reservoir halfpad tussen Blossoms en Oudtshoorn.

• Die oorspronklike werk aan die Blossoms-diepwaterprojek het in die vroeë 2000’s begin.

Die nooddroog­teprojek is in 2018 van stapel gestuur.

Die doel hiervan is om bestaande eks­plorasieboorgate te gebruik om tydens droogte via ’n pyp­lyn water na Oudtshoorn te bring.

Die Waterwet erken Suid-Afrika­ners se reg van toegang tot basiese waterverskaffing en die verantwoordelikheid van die regering om basiese water aan inwoners te verskaf. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "Blossoms-droogteprojek kry fondse vir voltooiing"

  1. Willem Baartman | 06/03/2022 at 14:22 |

    Baie dankie vir DWS wat die laaste befondsing moontlik gemaak het. Hierdie is n groot verligting vir Odn maar ek glo dit kan ook aangewend word by ander droigte geteisterde gebiede in die omgewing soos Calitzdorp wanneer die nood druk. Baie sterkte met die projek my hoop en vertroue is dat die grondeisers tog sal besef dat die water ook vir hulle n voordeel sal inhou en dat die munisipaliteit magtiging sal kry om oor hulle gronde te werk en pype aan te le.
    Ons vertrou dat dit nie nodig sal word om onteining sonder vergoeding toe te pas nie.

Comments are closed.