Blaasbalke is sy daaglikse asem

Bo: Barrie by sy werkstafel met een van die blaasbalke wat hy spesiaal vir Karusa maak. Foto: Hannes Visser Onder: Barrie Mulder met die blaasbalk wat hy aan Rassie Erasmus geskenk het. Foto verskaf

Dis nie sommer elkeen wat daarop kan roem dat daar ongeveer 2 000 van sy blaasbalke wat elkeen met die hand gemaak is, by braaivleisvure regoor die land en selfs oorsee gebruik word nie. As die blaasbalkmaker boonop nog 86 is, is die veer in sy hoed soveel groter.

Barrie Mulder van Oudtshoorn maak al die afgelope 25 jaar blaasbalke met die hand. Hy vertel dat hy destyds by ’n winkel naby Gauteng ʼn blaasbalk gekoop het om dit uitmekaar te haal en te kyk hoe dit werk.

“Ek het ’n paar tekortkominge gesien en toe die ontwerp aangepas sodat dit meer prakties is en ook langer kan hou. Ek weet nie presies hoeveel van hulle ek al gemaak het nie, maar ek het so ’n klompie jare terug tot by 1 000 boekgehou en daarna het ek seker omtrent nog soveel gemaak.”

Sy jongste blaasbalk wat ’n baas gekry het, het hy spesiaal vir Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, gemaak.
Hy het gehoor dat Rassie verlede week as gasspreker by ’n dinee in Oudtshoorn sou optree en het toe die blaasbalk gemaak en vir die organiseerders gegee om aan Rassie te oorhandig. Mulder het aan Die Hoorn die verskillende stappe gewys wat hy volg om ’n blaasbalk te maak en dit is duidelik dat dit ’n proses is wat nie sommer binne ’n dag plaasvind nie.

Die hout word in die voorgeskrewe vorm gesaag, geskuur, behandel, versier en geseël. Daarna word die blaaspyp en draadstut vasgeheg waarna die leer wat die twee houtdele aanmekaar heg, vasgemaak en afgerond word. Alles word met die hand gedoen en dit neem hom ongeveer ’n week om drie blaasbalke te maak wat dan teen R400 elk verkoop word.

“Daar is plekke soos byvoorbeeld Cango Wildlife wat die blaasbalke op hulle rakke het en dan maak ek ook spesiaal vir Karusa blaasbalke met hulle naam en wyn op die blaaie,” sê hy. Hy sê dis interessant dat meeste van die blaasbalke deur vrouens gekoop word as gekenke.

Mulder het na jarelange diens by die Richardsbaai-munisipaliteit afgetree. Hy het daar begin werk toe die dorp nog in die beplanningstadium was. “Daar was tydelike woonplekke en die dorp was toe nog net uitgelê. Ek het nog ’n foto waar ek destyds op droë grond staan waar die hawe vandag is. Ek het met my aftrede ’n hele foto-album vir die munisipaliteit geskenk met foto’s van hoe die dorp or die jare ontwikkel het.”

Hy en sy vrou, Ria, het na sy aftrede in Mosselbaai gewoon en daarna ’n aantal jare in Hartebeespoort gewoon. Hulle het byna vier jaar gelede Oudthoorn toe verhuis. Die egpaar vier vroeg volgende jaar hulle 60ste huweliks-herdenking.

Oor sy blaasbalke sê Mulder, “Ek sal nooit net kan sit en niks doen nie. Om elke dag hier met die trappe op te stap en by my werkstafel te kom sit, hou my aan die gang.”

Mense wat belangstel om meer oor Barrie Mulder se blaasbalke uit te vind en te bestel kan hom by 082 411 8280 kontak.

Hy stel voor dat mense hom eerder per WhatsApp kontak aangesien hy nie altyd sy hande los het om oproepe te beantwoord nie. (HANNES VISSER)