Teaterstuk dra by tot ’n positiewe kunsrewolusie

Bo: Theo Witbooi as Brandon Kiewiets tydens verlede naweek se opvoe-rings waar die gehoor Theo staande toejuig na die toneelstuk. Foto: Hannes Visser Onder: Ricardo Arendse is ’n skrywer, dramaturg, digter en mentor.

Toe ek die poster van Tiffany en Theo Witbooi se nuwe teaterstuk Welkom terug Kiewiets, via Whats-App sien, het ek amper deur die wolke gespring, want nou hoef ons nie Kaap toe, of Jo’burg toe, of George toe, te ry om teater te ervaar nie. Ons hoef ook nie te wag vir die KKNK nie.

Nee, teater het na die Prince Vintcent gebou in Oudtshoorn gekom en die eerste vers van die Jaco Jacobs gedig, Rilrestaurant, geskree: “Almal is welkom, bring die hele gesin. Staan nader, staan nader, kom gerus in. Die tafel is gedek, als is gereed. Maak julle reg om heerlik te eet…”

Dit was knap na ses die Vrydag-aand toe ek by die Prince Vintcent-gebou aankom. Ek was alleen bo en het begin wonder of daar ander mense ook gaan kom.

Dit was amper tyd vir die deure om oop te maak en as die gehoor nie kom nie, eet die dapper teatermakers nie vanaand nie – dit is maar die lot van meeste onafhanklikes wie buite gevestigde strukture werk en sonder die finansiële en logistieke steun van instansies moet sien kom klaar.

Toe hoor ek hoe die trap kreun. Eers so ’n klein kreuntjie – net hard genoeg om jou te laat weet ’n voet het daarop geval. Toe raak die kreungeluid al harder, al dringender soos reën op ’n sinkdak. Dit was voete! Dit was mense – 60 van hulle. Die huis was vol! En almal was daar: Die huismense. Die kerkmense. Die army se mense. Wesbank en Bridgton se mense. Bongolethu se mense ook! Almal daar om uit die bord van die woordeboer en haar akteur-man te eet.

Binne, het ek langs ’n kennis gesit en vir hom gesê dat hierdie ’n goeie oomblik is en dat ek bevoorreg voel om deel te wees daarvan, want vanaand het kuns en die kunstenaars gedoen wat kuns en kunstenaars altyd doen, dit het mense bymekaar gebring.

Tiffany Witbooi is ’n Fiesta wenner. Theo, haar man, was vir dieselfde toekenning in ’n ander kategorie benoem. Hierdie stuk vertel die verhaal van Brandon Kiewiets, ’n man wat na 18 jaar terugkeer na Volmoed, die plek van sy geboorte.

“In hierdie produksie word die gehoor deel van sy reis: ’n storie van familie, liefde, tradisie, kultuur, her-innering en erfenis. Dit is nie ’n storie oor dood nie – dit is ’n storie oor wat oorbly, selfs na teleurstelling, rou en berou. ’n Seun wat sy land verlaat, en die land wat hom nooit verlaat het nie.”

Die stuk is korter as 50 minute en trek die trane en stoot die lag. Dit laat jou wonder oor jouself en jou plek op hierdie aarde. Oor jou verhoudings met jou ouers, met jou verlede en met jou toekoms. En terwyl ek daar in die donkerte sit en kyk hoe kuns gepleeg word, dink ek aan die menigte oomblikke waar ek self deur vriend en vreemdeling op straat voorgekeer was. Hulle sou my altyd aan die hand vat en met ‘n diepe warmte sê, “Welkom terug, Cardo”

Welkom Terug, Kiewiets, is grens-verskuiwend in die sin dat dit bydra tot die positiewe rewolusie wat tans aan die gebeur is in Oudtshoorn en gedryf word deur die kunstegemeenskap. Dit is ’n rewolusie wat veg vir die behoud van ons kultuur, tekstuur, en lewenskragtigheid, en alle inwoners moet dit ondersteun. (RICARDO ARENDSE)