

Die skade wat aan die omgewing, landbou en infrastruktuur deur skrootdiewe en vandale byna twee weke gelede aangerig is, moet nog bepaal word.
Die skade is aangerig toe diewe voorverlede Saterdag die deksel van ’n rioolmangat langs die Klein Karoo Markt winkel-sentrum gesteel het en die rioollyn met betonstukke en klippe verstop geraak het.
Met die blokkasie het riool in die stelsel teruggestoot en in die omgewing van Albertstraat in die rivier begin uitloop, soos op die foto aangedui. Die riool het na die Olifantsrivier asook na waterslote wat uit die rivier lei, gevloei.
Die Hoorn het verlede week berig dat die skade onder in ʼn gat van bykans vyf meter aangerig is en dat ’n kontrakteur met gespesialiseerde toerusting aangestel moes word om die verstopping op te ruim.
Dit het uiteindelik meer as tien dae se onverpoosde werk geneem om die verstopping te verwyder en rioolvloei te herstel. Die dienste van ’n tweede kontrakteur moes ook bekom word.
Toe die skade ontdek was, was reeds kennisgewings uitgestuur dat riool as gevolg van die skade in die Grobbelaarsrivier beland het.
Mense langs die rivier is gewaarsku om nie die water te gebruik nie en die situasie is ook by die provinsiale departement van omgewingsake aangemeld.
Die munisipaliteit het Woensdagoggend, 30 Julie, aangekondig dat die skade herstel is en rioolvloei normaal is, daar was op daardie stadium egter steeds klein hoeveelhede riool wat in die rivier uitgeloop het. Die skade was egter reeds gedoen en dit blyk dat boere langs die rivier en waterslote ernstige skade ten opsigte van waterbronne en vee-verliese opgedoen het.
Die Hoorn het met van die boere wat skade gelei het, kontak gemaak. Hulle het bevestig dat hulle skade gelei het, maar het aangedui dat hulle nie kommentaar gaan lewer nie aangesien van hulle reeds met regsverteenwoordigers gekonsulteer het.
’n Navraag is aan die munisipale bestuurder sowel as aan die uitvoerende burgemeester gestuur om te bepaal hoe ernstig die rioolbesoedeling is, wat die finansiële implikasies van die vandalisme is en watter maatreëls toegepas word om die besoedeling te bekamp en te behandel.
Teen spertyd Woensdagmiddag het die munisipaliteit aangedui dat ’n amptelike verklaring later die week uitgereik sou word.
Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, se kantoor het kort nadat die navraag gestuur was, ’n verklaring aan die media ge-stuur. Dele van die mediaverkla-ring lui as volg:
“Die uitvoerende burgemees-ter, raadsheer Johan Allers, is ten volle bewus van die erns van die situasie en deel in die kommer van die plaaslike landbougemeenskap.
“Ons kan bevestig dat daar verslae is van verliese onder vee in die Welgevonden-gebied. Ter bevestiging van die oorsaak is water- en toksisiteitstoetse onmiddellik in werking gestel en uitslae word binne sewe dae verwag.
“Die besoedeling is die gevolg van sabotasie aan die hoof- rioolpyplyn naby die Klein Karoo Markt, wat daartoe gelei het dat rioolwater die Grobbelaarsrivier binnegedring het.
“Hierdie besoedelde water het reeds boerderygebiede langs die Olifantsrivier bereik en die moontlikheid van besoedelde water wat in damme en kanale instroom, word met uiterste erns hanteer.
“Op Dinsdag, 29 Julie 2025, het raadsheer Allers die toneel persoonlik besoek saam met die munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, direkteur van tegniese dienste, Justin Lesch, senior amptenare en die munisipale omgewingsbeampte.
“Ook teenwoordig was plaaslike boere en sakelui wat deur die besoedeling geraak is.
“Raadsheer Allers het reeds op Dinsdag 22 Julie 2025 aan die senior amptenare opdrag gegee dat alle beskikbare hulpbronne ingespan word om die verspreiding van die besoedeling te beperk en stop, toegang tot die besmette water vir vee en mense te verbied en die situasie deurlopend te moniteer ter beskerming van die omgewing, voedselveiligheid en openbare gesondheid.
“Hy sê die besoedeling het ernstige gevolge vir mens en dier en waarsku dat die water tans onbruikbaar is. Hy doen ’n dringende beroep op boere om tot verdere kennisgewing geen van hierdie water in damme op te gaar of vir vee-drinkdoeleindes te gebruik nie.
“Alle beskikbare regs- en tegniese stappe word gevolg en daar word deurlopend met betrokke belanghebbendes gekommunikeer namate verdere inligting beskikbaar raak.” (HANNES VISSER)