Beskuldigde in Herandien-saak se 2de borgpoging van hand gewys

Die aansoek van die vermeende moordenaar van die 60-jarige Abraham Herandien van Bloupunt, Dysselsdorp, om vir ’n tweede keer om borgtog aansoek te doen, is Maandag in die Oudtshoorn landdroshof van die hand gewys.

Die 46-jarige Fransisco Erasmus het die hof meegedeel dat hy op gronde van nuwe feite ’n tweede keer om borgtog aansoek wil doen en onder meer ’n maatskaplike werker en ’n beampte van korrektiewe dienste in Mangaung wil roep om in die saak te kom getuig. Hy beskuldig ook die ondersoekbeampte, ao Ettienne Kuhn daarvan dat hy onder eed leuens in die hof vertel het.

Die staatsaanklaer, Adv Michelle Weyers, het die aansoek teengestaan omdat die beskuldigde nie enige nuwe feite aan die hof verskaf het nie.

Landdros Stephanie Strydom het Erasmus, wat tot dusver sy eie saak hanteer, aangeraai om vir hom ’n regsverteen- woordiger aan te stel en ingelig dat die saak vir seker na die streekhof en moontlik die hooggeregshof oorgeplaas sal word.

Erasmus staan tereg op die moord van Herandien wie se liggaam met verskeie steekwonde op Dinsdag 21 Maart deur verkeersbeamptes in sy motor gevind is.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 28 September uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)