Berigte oor ontvoerings in Oudtshoorn

Bo: Mary Edwards het lede van die Rosevalley Buurtwag bymekaar gekry om leerders van Saturnus Primêre Skool te beskerm. “Dit was die enigste skool waar daar teen verlede week nog nie ’n voorval was nie, en ons wou die kinders veilig hou,” het sy aan Die Hoorn gesê. Hulle is deur sers Levendal van die Polisie bygestaan. Foto: Mary Edwards Onder: Polisie is ontbied na Sacred Heart Primêre Skool nadat ’n kind na bewering amper ontvoer is. Foto verskaf

Die Oudtshoorn polisie het verlede Dinsdag, 5 September, gereageer op ’n kennisgewing van ’n verdagte voertuig naby ’n primêre skool in Oudtshoorn.

Dit kom nadat daar plasings op Facebook gemaak is oor ’n mislukte ontvoering van ’n laerskoolleerder by Sacred Heart Primêr in Bridgton.

Volgens sers Christoper Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is ’n voertuig later die dag gestop en deursoek. Geen stappe is egter verder teen hulle geneem nie.

“Daar is tans ook ’n ondersoek na bewerings van insittendes in ’n swart Volkswagen Golf wat op 28 Augustus ’n 12-jarige meisie genader het”, het Spies in ’n verklaring aan Die Hoorn gesê.

Die Oudtshoorn Gesins-geweld en Kinderbeskermingseenheid ondersoek tans hierdie saak.

Hy het verder gesê dat Oudtshoorn-polisiebestuur die bewerings as ernstig beskou en die Sektorbevelvoerders is versoek om gereeld met die skole se bestuurspanne in die area in kontak te bly.

Intussen het die polisie ook patrollies rondom skoolpersele in die area versterk. “Ons versoek die publiek om sensitief te wees oor kinderveiligheidsake en om gerugte op sosiale media platvorms te vermy.

Hierdie gerugte kan onnodige paniek in gemeenskappe veroorsaak.”

Die publiek word aangeraai om inligting of onwettige aktiwiteite by die polisie aan te meld deur die nommer 079 893 9966 te skakel.

Alternatiewelik kan inligting deurgegee word via Misdaad Stop by 08600 10111. (Deur Lindi Brill)