Dwelms gekonfiskeer in Prins Albert

Die groot besending Khat wat deur die Prins Albert polisie by ’n padblokkade gekonfiskeer is. Foto: Verskaf

Die ontplooiing van polisielede in Prins Albert op die R407 verlede Saterdag, 9 September, het gelei na die arrestasie van twee verdagtes met ’n groot besending dwelms in hul besit.

Omstreeks 07:10 is ’n padblokkade opgerig en ’n minibus taxi is voorgekeer.

Met die deursoek van die voertuig is ongeveer 205 bondels Khat gevind. Dit was in die besit van ’n passasier in die voertuig. Hy is gearresteer op aanklagte van dwelmhandel.

Die polisie het ook ’n swart Corsa bakkie afgetrek op die N12 rondom 18:00. Hulle het die voertuig deursoek en 25 sakkies dagga is in die voertuig gevind. Twee Tanzaniese burgers is in hegtenis geneem.

Daar is ook 348 g dagga in die besit van ’n vroulike passasier gevind en sy is ook gearresteer op aanklag van dwelmhandel.In ’n onverwante voorval by ’n padblokkade van die Kwanonqaba polisie het ’n verdagte persoon ’n voorwerp laat val en gevlug.

Die polisie het die gebied gefynkam en op ’n 9 mm Baretta pistool afgekom wat met 9 patrone gelaai was. Die verdagte het egter weggekom.Die persone wat gearresteer is het op Maandag, 11 September, in die hof verskyn. (Deur Lindi Brill)