
Polisie-operasies op 8 September teen onwettige dwelmhandel by taxi-staanplekke en roetes in George en Oudtshoorn in die Tuinroete-distrik, het positiewe resultate gelewer met die inhegtenisneming van 5 verdagtes vir dwelmhandel oor die afgelope naweek.
Hierdie geïntegreerde intelligensiegedrewe operasies, uitgevoer deur die polisie se operasionele eenheid van die Eden distrik en Misdaadintelligensie, het daartoe gelei dat daar beslag gelê is op dwelms van meer as ’n R100 000.
“Op Vrydag, 08 September 2023, omstreeks 15:30 het die polisie op die George Taxi Rank toegeslaan na ’n reeks geheime operasies wat by die perseel uitgevoer is”, het sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, in ’n verklaring aan Die Hoorn gesê.
Hy het verder gesê dat die lede ’n 23-jarige verdagte gearresteer het op ’n aanklag van dwelmhandel. Daar is op klein hoeveelhede mandrax en tik beslag gelê. Met die deursoek van nog twee persone in die omgewing is daar beslag gelê op 13 sakkies tik en ’n Mandrax-pil wat in hul besit gevind is. Die 37- en 43-jarige verdagtes is gearresteer op ‘n aanklag van besit van dwelms.
Nog twee ongedokumenteerde individue, 31 en 41 jaar oud, is in hegtenis geneem. Later dieselfde dag is lede van die Tuinroete Misdaadvoorkomingseenheid ontplooi na ’n staproete by die ingang van George op die N12.
Die deursoeking van ’n man het gelei tot die beslagneming van 300 gram tik wat in sy besit gevind is. Die 28-jarige verdagte is daarna gearresteer op ’n aanklag van betrokkenheid by die handel in Tik.
Op Saterdag, 9 September, het lede van die Tuinroete Landelike Blitspatrollie ’n minibus-taxi buite Oudtshoorn gestop na aanleiding van inligting oor ’n bekende dwelmsmokkelaar.
Die deursoeking van die man het egter geen dwelms in sy besit opgelewer nie. Die waaksame polisielede het die man na ’n nabygeleë mediese fasiliteit geneem waar 20 gram Tik uit sy liggaam herwin is.
Hy is gearresteer op ’n aanklag van besit van dwelms.
Hierdie inhegtenisnemings en inbeslagnemings vorm deel van die polisie se pogings om gemeenskappe van dwelms te bevry en dwelmhandel in die gebied uit te roei. Die gearresteerde persone het Maandag, 11 September 2023, vir die eerste keer in die hof verskyn. (Deur Lindi Brill)