Oudtshoorn het met leedwese verneem van die skielike dood van Johan Malan, ’n bekende elektrisiën. Hy het op 12 Junie slegs 14 dae voor sy 39ste verjaarsdag aan ʼn hartaanval beswyk. Hy het ook in 2020 ’n hartaanval gehad.
Sy lewensmaat, Losinda Krause Westraad, het die tyding en hulle verlies op haar Facebook-blad gedeel: “Liefde dit kan nie waar wees nie! Dit mag nie! Ons het nog lekker kaart speletjies gespeel, musiek gekyk en luister op YouTube, uit ons maag gelag, ons seekospaella was nog besig op die vuurtjie…. hoekom los jy my nou agter? Ons het jou almal nog so nodig. Weet jy is in die Hemel met al jou vrae en weet jy sal van bo af na ons kyk. Ons lief jou bitter baie my lief.”
Sy het aan Die Hoorn gesê: “Hy het my drie kinders as sy eie beskou en was ʼn wonderlike pa vir hulle. Ek wil almal bedank vir al die liefde, bystand, boodskappe, kos, blomme en inloer. Ons waardeer dit baie.”
Hy was ’n oud-Gimmie en het in 2004 daar gematrikuleer. Hy was bekend en geliefd in die gemeenskap en boodskappe van medelye het op sosiale media ingestroom.
Hy was nie slegs in besigheidskringe in die Klein Karoo bekend nie, maar was ook ’n kranige jagter en geesdriftige hengelaar. Malan het ’n negejarige seun uit sy vorige huwelik. Sy begrafnis vind hier-die Sondag, 22 Junie, plaas. (HANNES VISSER)
Bekende elektrisiën sterf aan hartaanval
