Die Hoorn het hierdie week inligting ontvang dat ’n groep van Oudtshoorn wat mense om die bos lei deur voor te gee dat hulle pensioengeld van Transnet en ander instansies kan opspoor en laat uitbetaal steeds hul geldslenter bedryf.
Die naam waaronder die groep “sake” doen, was reeds verskeie kere in die media en ʼn joernalis het sowat drie jaar gelede ʼn lys van bykans 200 slagoffers aan die Valke in George oorhandig, maar dit blyk dat daar nog geen optrede was nie.
Die persoon wat Die Hoorn gekontak het, het gesê die groep is uiters aktief in dorpe in die Wes-Kaap en so ver as die Oos-Kaap en selfs Gauteng.
Hulle hou vergaderings met inwoners in verskillende dorpe waartydens die mense gevra word om ’n registrasiefooi te betaal wat wissel van R150 tot R250 en hulle besonderhede te verskaf.
By betaling van die fooi voer een van die “beamptes” die persoon se inligting in ’n skootrekenaar in en bevestig dan sommer daar op die plek dat daar ’n bedrag aan die persoon verskuldig is.
Die persoon ontvang dan ’n stukkie papier waarop die bedrag met die hand geskryf word. Geen ander inligting word aan die “begunstigde” gegee nie.
Met vorige berigte is mense bedrae wat wissel van R30 000 tot soveel as R200 000 belowe.
Volgens die verteenwoordigers lê die geld iewers en word dit deur Alexander Forbes en Metropolitan bestuur.
Die joernalis wat destyds die storie gedek het, het egter bevestig dat nie een van die twee instellings of Transnet enige kennis dra van so ’n “fonds” nie. Daar kon ook nie ʼn enkele begunstigde opgespoor word wat enige geld ontvang het nie. Uit al die inligting wat oor ’n kwessie van bykans twee jaar ingesamel is, was dit duidelik dat hierdie waarskynlik ’n slenter is.
Name van persone wat “registrasiegeld” betaal het sowel as die bedrae wat aan hulle belowe is, is oor maande deur die joernalis bekom en op ’n lys geplaas wat aan die Valke oorhandig is.
Dat dit ’n slenter is, is duidelik aangesien sommige van die mense aan wie uitbetalings belowe is, nog nooit tot enige fonds bygedra het nie.
Hulle sluit bejaarde plaaswerkers, huishulpe, petroljoggies, algemene werkers – inteendeel enige persoon wat al ooit gewerk het – in.
Die Hoorn win tans inligting in oor die onlangse optrede van die groep om te bevestig dat dit dieselfde groep is waaroor destyds berig is.
’n Navraag sal ook aan die direkteur van openbare vervolging gestuur word om vas te stel wat van die aanvanklike aanmelding en inligting geword het. (Mense wat onlangs ’n soortgelyke ervaring gehad het, kan inligting deurgee na 083 467 1522. (HANNES VISSER)
Groep wat voorgee om “verlore geld” van werkers op te spoor steeds aktief
Foto: Freepik