Van modderhuis tot baksteenhuis

Bo: Een van die modderhuise wat afgebreek en vervang is. Onder: Een van die nuwe huise wat op persele gebou is waar modderhuise platgestoot is. Foto’s verskaf Heel onder: ʼn Oorstelpde inwoner, ontvang die sleutel tot haar nuwe huis van die adjunkminister, Tandi Mahambehlala. Links is die onderburgemeester, Zoe Tyatya en regs is die speaker, Suzanne Jansen. Foto: Hannes Visser

Die nasionale adjunkminister van menslike nedersettings, Tandi Mahambehlala, het Oudtshoorn verlede Vrydag 13 Junie, besoek.

As deel van haar besoek het sy 11 huise aan inwoners van Wyk 4 in Bongolethu oorhandig wat voorheen in sogenaamde modderhuise ge-woon het.

Die modderhuise is dekades gelede in Bongolethu deur inwoners opgerig toe hulle erwe ontvang het.
Die huise is met modder en hout opgerig, maar het deur die jare heeltemal verval.

In 2017 het die departement van menslike nedersettings ʼn opname van die modderhuise gemaak en gevind dat 73 dringende herstel benodig en dat 25 platgestoot moet word omdat hulle nie meer leefbaar is nie.

Die inwoners van die huise het toestemming verleen dat die strukture afgebreek word en met baksteenhuise vervang word.

Tot op datum is 25 huise vervang en die minister het met haar besoek 11 huise aan inwoners wat voorheen in modderhuise gewoon het, oorhandig.

Sy is deur Oudtshoorn se onderburgemeester, Mziwoxolo (Zoe) Tya-tya, verskeie raadslede en die munisipaliteit se bestuurder van menslike nedersettings, Lauren Jones, vergesel.

Mahambehlala het benadruk dat dit nie net belangrik is om huise te bou nie, maar dat wettige eienaarskap ook aan die begunstigdes oorgedra word, sowel as hulle verantwoordelikheid om die eiendomme te onderhou.

Tyatya het gesê die vervanging van die modderhuise is van historiese belang wat meer as bloot ’n konstruksieprojek is.

“It represents dignity restored and lives improved.”

Tydens Vrydag se verrigtinge is ʼn kranslegging en herinneringsdiens ook by die gedenksteen van die Bongolethu 3 gehou.

Die Bongolethu 3 was drie jong mans van Bongolethu wat hulle lewens tydens die apartheidstryd verloor het. (HANNES VISSER)