
Die Khoi-leier Peter Takelo het met woord en lied die lewe van Shane Petzer gevier en sy hartseer oor sy afsterwe uitgespreek.
Foto’s: Mickey Mentz
’n LEWENSGROOT skildery wat die oorlede organiseerder van Barrydale in Bloom, Shane Petzer, uitbeeld is op die laaste dag van die dorp se ooptuin-safari deur Suurbraak-kunstenaar Donovan Julius, onthul.
Shane se ouers, vriende en familie het voordat Julius met die kunswerk begin het die geleentheid gehad om ’n boodskap op die kleurvolle doek te skryf. Julius het Sondag 17 Oktober die kunswerk voltooi en dit sal op ’n latere geleentheid ten bate van die gedenktuin wat by die Barrydale Kliniek deur Shane en Helena Joubert van stapel gestuur is, opgeveil word.
“Shane is die rede waarom ek vandag my werk in Barrydale uitstal. Hy was nie net lief vir mense nie.
Hy het ook ’n besondere liefde vir kuns gehad en soos ek verneem het hy jare gelede ook kunsklasse aan inwoners aangebied,” vertel Julius.
Shane was ook die organiseerder van die Barrydale Kunsmeander wat veronderstel is om gedurende Desember plaas te vind.
Die dorp wemel van uitstekende kunstenaars en dit sal dus baie hartseer wees indien dit nie weer aangebied word nie.
Intussen het die Khoi-leier Peter Takelo gesê dat die gemeenskap daarna moet streef om meer soos Petzer te leef.
Takelo het sy hartseer oor Petzer se afsterwe uitgespreek. Hulle het nou saamgewerk by Net vir Pret waar hulle besig was met besprekings om ’n volkseie Khoi Kafee te ontwikkel en daarop klem gelê dat die dorp beslis armer sonder Petzer gaan wees.
“Shane was ’n voorbeeld van ’n mens wat ander se belange bo sy eie geplaas het. Hy het die regte intensie (om goed te doen) gehad in alles wat hy aangepak het en ons weet dat hy nou sag by die engele rus.”
Dit was die negende jaar wat tuinmakers van regoor die land Barrydale in Bloom besoek het en ongelukkig / gelukkig was dit ’n baie nat naweek in die Klein Karoo.
Daarom, wat later beskryf is as ’n “wonderlike oomblik waartydens die wêreld vir ’n paar minute sin gemaak het”, was dit sprokiesmooi toe ’n dubbele reënboog kort ná Takelo se toespraak verskyn het. (Deur Mickey Mentz van News62)