DIE afgelope tyd sien ons veselinternetadvertensies en -inligting oral, maar dit is net vir die mense op die dorp. Wat van die boere en mense wat op plase en afgeleë plekke bly?
So bietjie agtergrond oor internet op die plase: Telkom was in die ou dae die enigste opsie vir die boere, mits hulle ’n telefoonlyn gehad het en dit aan ’n outomatiese sentrale gekoppel was.
Indien die perseel egter ver van ’n sentrale af was, was die kans groot dat ’n mens geen toegang tot die internet sou kon hê nie, al het jy ’n telefoonlyn gehad.
Tot onlangs toe was daar selfs nog plekke wat deur ’n handsentrale bedien was, en ook hierdie mense kon geen internettoegang kry nie.
Hierdie scenario het die afgelope paar jaar egter drasties verander. Telkom onderhou of vervang nie meer die ou koperkabels nie en het onlangs opgehou om dienste te lewer aan verskeie verafgeleë plekke aangesien dit nie meer koste-effektief vir hulle is nie.
Gelukkig het selfone die mark betree, maar dan is daar weer groot gebiede wat geen of swak sel-foonontvangs het.
Om tred te hou met die mark en industrie is dit egter deesdae noodsaaklik dat boere ook toegang tot die internet het vir e-posse, bankdienste, betalings, bestellings en om natuurlik besigheid met die buiteland te doen.
Watter internet-opsies is vir plase beskikbaar?
• “Wireless” internet – Daar is maatskappye wat wireless vir plase aanbied, maar dit is beperk tot die hoeveelheid torings wat die diensverskaffers tot hulle beskikking het.
Hoe verder die toring van die plaas af is, hoe swakker is die sein. Hierdie diens word geraak deur slegte weer en diefstal van toerusting.
• Selfoon-internet – Groot gedeeltes van die plase word gedek deur die verskillende selfoonnetwerke, maar daar is steeds groot gebiede met geen of swak selfoonontvangs. Die internetspoed word ook belemmer deur die afgeleë selfoonto-rings wat nie altyd die nuutste internetspoed kan hanteer nie.
• Satelliet-internet – Alle plase en afgeleë plekke word deur satelliet-internet gedek en dit blyk die beste oplossing vir plase te wees.
Hoe werk satelliet-internet?
Satelliet-internet werk baie soos satelliet-TV. ’n Skottel(dish) word geïnstalleer om ’n satellietsein te kan optel.
Daarna word ’n modem in jou huis of kantoor geïnstalleer wat aan ’n wifi-router gekoppel word sodat jy al jou toestelle (slimfone, rekenaars, skootrekenaars en slim-TVs) aan die internet kan koppel. Jy benodig steeds ’n internetdiensverskaffer (ISP) om die internet te kan gebruik. Jy gaan die skottel, die modem en router moet aankoop.
Daar is ’n hele paar satellietdiensverskaffers in die land.
Die diensverskaffer sal ook die hele installasie vir jou behartig.
Nadat jy jou diensverskaffer gekies het moet jy die pakket kies wat vir jou gaan werk. Jy kan capped of ’n uncapped pakket kies. Capped pakkette gaan jou ’n vaste hoeveelheid data per maand toelaat (bv 100GB), waar die uncapped pakkette jou onbeperkte data gaan gee.
Daar is ’n merkbare prysverskil tussen hierdie twee opsies en die internetspoed wat jy kies sal ook die prys beïnvloed.
Om te bepaal watter spoed en hoeveel data jy gaan benodig, moet jy besluit waarvoor jy jou internetdiens gaan gebruik. Indien jy net e-posse en die internet gaan gebruik sal ’n capped pakket voldoende wees.
Wil jy iets soos Netflix gebruik, gaan jy definitief ’n vinniger spoed asook ’n uncapped pakket nodig hê.
Hoeveel data gebruik ’n mens oor die algemeen?
1GB se data gaan jou toelaat om 1 000 e-posse en 20 ure op die internet te spandeer, mits daar nie groot aanhangsels (attachments) aan jou e-posse is nie en mits jy nie te veel video’s kyk nie. Om TV-reekse en flieks op die internet te kyk, gaan jy 1.86GB per uur gebruik as jy teen ’n resolusie van 720p kyk.
Kyk jy dieselfde op 1080p-resolusie, gaan jy 3.04GB per uur gebruik. Op 4K resolusie gebruik ’n mens 15.98GB per uur.
Jy kan ook die internetdiens as ’n telefoondiens gebruik. Jy kan hierdie diens, wat bekend staan as VOIP (voice over IP), by jou internetpakket laat voeg. Jy sal ’n unieke telefoonnommer kry en dit sal werk soos enige ander telefoondiens. Jy sal net ’n VOIP-telefoonhandstuk moet aanskaf.
Daar is verskeie satelliet-internetopsies beskikbaar.
Doen dus jou navorsing oor die diensverskaffer en hul pakkette. Begin klein en toets die spoed ens. Maak seker jy kan ter enige tyd op- of afgradeer. (Deur Heinrich Bosman)
Internet op die plaas: satelliet die antwoord
