TER viering van wêreld-diabetesdag het vroue van Barrydale Hospice en Net vir Pret saam gewerk en ’n kookkunsklas aangebied met die hoop om holistiese oplossings vir minderbevooregte vroue se voedingsbehoeftes te vind.
Terwyl die Hospice verpleegpersoneel die vroue wat deelgeneem het se gesondheid getoets het, het die Net vir Pret-span gesorg dat daar na hul voedingsveresites omgesien word.
Volgens organiseerder, Gillian Parenzee van Nurture Colab, is daar ’n drastiese styging in die aantal vroue wat diabete word opgemerk en hierdie kursus wat by die Karoo Daisy aangebied is het ook bevestig dat daar drastiese stappe tot die verbetering van vroue in die gemeenskap se algehele gesondheid geneem moet word.
“Ons het gevind dat slegs 14% van die vroue wat aan hierdie byeenkoms deelgeneem het nie enige mediese kwale het nie.” verduidelik Parenzee.
“Dit is ook dan kommerwekkend dat 72% van die vroue wat hier was aan hipertensie lei.”
Faktore soos werkloosheid en die allerdaagse gejaag kan aan hierdie bevindings toegeskryf word. Uiteraard is stres wat deur die pandemie veroorsaak is ook as ’n faktor uitgewys, hoewel wanvoeding op landelike vlak reeds dekades ’n probleem is.
Parenzee is egter optimisties dat daar met nog sulke werkswinkels waar volhoubare voedingstegnieke aamngeleer word, ’n verskil in die lewens van die gemeenskap gemerk sal word.
“Die tekort aan kos en die tekort aan gesonde kos is iets wat ons dringend moet aanspreek. Vroue het dikwels nie toegang tot elektrisiteit nie en dan speel beurtkrag ook ’n rol.
“Deur die kooktegnieke wat ons hier gedemonstreer het, is die vroue bemagtig om beter besluite vir hulself en hul gesinne te neem.”
Van hierdie tegnieke sluit in die ‘Keep it Bag’ tegniek waarmee groente wat baie min gekook is in ’n sak geplaas word en dan oornag gaar word.
Parenzee het verduidelik dat hierdie kookklas maar die eerste geleentheid in die oorhoofse projekte was wat deur Barrydale Hospice, in samewerking met Net vir Pret, aangebied het. (Deur Mickey Mentz van News62)
Barrydale se vroue leer nuwe kooktegnieke
Vroue van Barrydale het aan 'n kookkunsklas deelgeneem waartydens hulle geleer het om op 'n meer volhoubare wyse, met minder elektriseteit, gesonde disse voor te berei. Die insiggewende dag is deur Barrydale Hospice, in samewerking met Net vir Pret, aangebied. Foto: Mickey Mentz