Deur Angelique Erasmus
’N JONG vrou van Oudtshoorn en haar familie is in rou gedompel nadat haar babaseuntjie drie dae na sy geboorte in Mosselbaai later in die George Provinsiale Hospitaal op 19 Maart oorlede is.
Volgens Chelci Lucas (22) is haar seuntjie van 4,91 kg op 16 Maart in die Mosselbaai Hospitaal gebore, en het die uitgerekte geboorteproses 13 uur geduur.
Die familie glo dat baba Chédin se dood te wyte is aan die nalatigheid van hospitaalpersoneel van Mosselbaai, en is besig om regsadvies in te win en ’n tweede nadoodse ondersoek te reël.
Lucas sê personeel in George, waarheen sy en haar baba na die geboorte oorgeplaas is, het vir haar gesê haar seuntjie het erge hipoksiese iskemiese enkefalopatie gehad, ’n soort breinbesering as gevolg van ’n suurstoftekort.
Die tekort aan suurstof was na bewering so erg dat van die baba se organe ook seergekry het en hy selfs aanvalle (seizures) gekry het.
Die nadoodse ondersoek dui ook daarop dat hy as gevolg van ’n suurstoftekort oorlede is.
Die familie vermoed ook dat baba Chédin se sleutelbeen of arm tydens die geboorteproses gebreek is, omdat dié arm glad nie na die bevalling kon beweeg nie.
Lucas sê sy is op haar beraamde kraamdatum,13 Maart, na die kliniek. Daar is voorgestel dat – sou sy teen 20 Maart nog nie gekraam het nie – sy op 20 Maart hospitaal toe sou gaan. Sy het egter op 16 Maart in kraam gegaan. Volgens haar het die verpleegster wat haar aanvanklik bygestaan het, haar normaal laat kraam.
Toe die verpleegster gesien het dat Lucas sukkel om geboorte te gee, het sy glo die hulp van nog ’n verpleegster ingeroep en nog twee susters later laat kom om te help.
Sy sê haar baba het geen geluide gemaak of gehuil na die geboorte nie. ’n Lid van die verpleegpersoneel het glo aan haar gesê die baba is moeg omdat die geboorte so lank geduur het.
Twee dokters aan diens wat in daardie stadium ontbied is, moes ook na bewering na toerusting soek om die baba te kan help en daar is volgens Lucas eers sowat ’n uur later daarin geslaag om die baba te kry om op sy eie asem te haal.
Daar is toe glo besluit om die seuntjie na George oor te plaas, waar die nodige toerusting is wat hom sou help met die swelling op sy brein. Dit het egter langer as vier ure geduur om ’n ambulans te kry wat hulle kon vervoer omdat ambulanspersoneel na bewering bekommerd was of hulle die baba op die rit sou kon bystaan.
Lucas het aan Die Hoorn vertel dat een van die verpleegsters haar na die bevalling besoek en verskoning gevra het omdat sy nie geweet het dat Lucas moontlik ’n keisersnit moes kry nie, en omdat sy nie kon sien dat baba Chédin ’n groot baba was nie.
Die hospitaal weier volgens die familie om mediese rekords aan hulle te verskaf.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid (Tuinroete en Sentraal Karoo), sê die department beskou die aantygings in ’n ernstige lig en het die betrokke hospitaal gevra om die saak te ondersoek waarna terugvoer aan die ouers gegee sal word. Sy het namens die departement simpatie betuig teenoor Lucas en haar familie vir hul verlies.