Deur Liesel le Roux
DIE troebel water van die NA Smit Swembad op Oudtshoorn het die dorp die afgelope naweek weer met ’n rooi gesig gelaat en vrae laat ontstaan oor die Oudtshoorn Munisipaliteit se oënskynlike onvermoë om die gehalte van die swembad se water volhoubaar te kan bestuur.
Ouers van elders wie se kinders die naweek hier aan die Swem Suid-Afrika se Vlak 3 Streeksgala deelgeneem het, was baie ongelukkig oor die toestand van die water waarin hul kinders moes swem. Ivan de Villiers van St Francis Bay in die Oos-Kaap wie se seun aan die gala deelgeneem het, sê verskeie van die deelnemers het in die troebel water gesukkel en kon nie naby hul beste tye kom nie. “Die water was so groen dat hulle nie die lyne kon sien nie.”
Hy sê hy weet van drie of vier swemmers in die groep wat saam met hulle was, wat teen die kanlyne vasgeswem het of by die eindpunt teen die swembad vas.
“Dit is ’n frustrasie vir die kinders om nie goeie tye te kon behaal nie. Baie van hulle werk van jongs af – die grootste deel van hul lewens – om op dié vlak te kan kom. My seun oefen byvoorbeeld elke dag drie of vier ure lank.”
Delia Barnard van die Freda Barnard Swemskool op Oudtshoorn het ook haar teleurstelling met die gehalte van die water uitgespreek en gesê dit het veral in party items die swemmers beslis benadeel.
“Dit lyk nie by die ander swembaddens so waar die soort swemgalas aangebied word nie. Daar is die water altyd helder en alles perfek,” sê Barnard.
Barnard sê sy vrees dat Oudtshoorn galas van dié aard kan verloor, wat jammer sal wees omdat die dorp alles het wat nodig is om sulke galas suksesvol aan te bied – die weer, genoeg goeie verblyf en ’n 50 meter-swembad.
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het op navraag van Die Hoorn gesê, hulle is bewus van die klagtes oor die toestand van die water.
“Ons is besig met interne ondersoeke oor die oorsaak van die gebeure.”
• Betrokkenes vertel dat die watergehalte goed was by vorige swemgalas die seisoen, wat die swak watergehalte oor die naweek net meer onverstaanbaar maak.
Die swembad was die hele Maartmaand gesluit, klaarblyklik vir onder meer die opgradering van teels wat gebreek was.