Fritz Jacobs en Tammy Weyers in gelukkiger dae. Foto Facebook
Deur Angelique Erasmus
DIE saak teen ’n eertydse werknemer van Badenhorst Slaghuis op Oudtshoorn, Fritz Jacobs, en sy voormalige meisie, Tammy Weyers, is steeds nie in die Oudtshoorn Streekhof afgehandel nie nadat die klaer in die saak, Bennie Byleveld van Badenhorst Slaghuis, nie die pleitooreenkoms van Jacobs aanvaar het nie.
Jacobs en Weyers het op 26 September 2018 met ’n Hyundai-bakkie en ’n groot bedrag geld van Badenhorst Slaghuis verdwyn en is die volgende dag in Knysna in hegtenis geneem.
Die staat het in Februarie die twee beskuldigdes se pleitooreenkomste aanvaar, maar het in daardie stadium nog nie met Beyleveld gekonsulteer nie. Die saak het Dinsdag weer voorgekom.
Byleveld het vandeesweek telefonies aan Die Hoorn gesê dat die eienaars van die slaghuis nie Jacobs se pleitooreenkoms aanvaar nie.
“Korrektiewe toesig sal nie ’n gepaste straf wees nie. Die bedrag wat hy (Jacobs) gesteel het, was so groot dat hy die besigheid, en die werksekuriteit van die sestig werknemers wat by ons werk, in gevaar gestel het,” se Byleveld.
Die saak is Dinsdag uitgestel na 12 April, wanneer albei beskuldigdes weer in die hof sal wees.
’n Verdere rede vir die uitstel was die studieverlof waarop hul regshulp-prokureur, Eugene Roos, was. Wenzel Botha het Dinsdag vir Roos ingestaan.
’n Nuwe landdros, landdros Ntsoki Moni, het ook die saak oorgeneem nadat landdros Retha Pretorius se kontrak tot ’n einde geloop het.
Jacobs is steeds in aanhouding. Hy is sedert einde September 2018 agter tralies. Weyers se borgvoorwaardes is tot volgende week verleng. Albei staan tereg op klagtes van diefstal en die gebruik van ’n voertuig sonder toestemming.