DA: Regskommissie ondersoek spanning onder raadslede

Deur Liesel le Roux
DIE DA se Federale Regskommissie ondersoek tans bewerings van onderlinge spanning onder raadslede op Oudts­hoorn asook bewerings van moontlike korrupsie.

Volgens James Selfe, voorsitter van die DA se Federale Raad, het hulle ’n versoek ontvang van Anton Bredell, provinsiale voorsitter van die DA in die Wes-Kaap, om die bewerings te ondersoek. Die ondersoek word gelei deur Benedicta van Minnen van die regskommissie.

Selfe sê die hoofdoel van die ondersoek is om te verseker dat die Oudtshoorn-raad gehaltediens aan inwoners van Oudtshoorn lewer.

’n Raadsvergadering op die dorp is verlede Donderdag uitgestel, waarskynlik omdat verskeie raads­lede nie die vergadering kon bywoon nie as gevolg van die ondersoek. Die regskommissie het na verneem word van Woensdag tot Vrydag indivi­duele gesprekke met ’n aantal DA-raadslede en ook die munisipale bestuurder, Allen Paulse, ge­voer. Die raadslede sluit die burgemeester, Colan Sylvester, en die speaker, Julia le Roux, in.

Intussen is die Burgemeesters-imbizos wat van 1 tot 16 April op Oudtshoorn sou plaasvind, ook uitgestel, maar dit is nie bekend of dié uitstel verband hou met die ondersoek nie.

Verskeie gerugte oor tweespalt onder die plaaslike DA-raadslede en ’n gebrek aan eensgesindheid en samewerking tussen die burgemees­ter en van die raadslede loop die laaste tyd op Oudtshoorn. Daar word selfs beweer dat van binne die munisipaliteit gepoog word om die DA sleg te laat lyk op Oudtshoorn.