
Kapt Marius Breda
“NIKS is skielik nie. God ken die somtotaal van elkeen se lewe.”
Met dié woorde het past Karin Fourie van die Evangelies Lutherse Kerk die aandag van die bedroefde familie en vriende van kapt Marius Breda op hul eie lewens gevestig.
Breda (57), ’n boorling van Ladismith, is op Donderdag 16 September in Kaapstad oorlede waar hy en sy gesin gewoon het. Hy het aan kanker gely.
Sy vrou, Theresa Breda, sê haar man se lewe was georden en as sy terugdink, wil dit voorkom asof hy besef het dat sy reis op aarde voltooi was. Volgens haar het hy haar ingelig waar om belangrike dokumente, soos sy testament, te vind. Hier het sy uitgevind van sy laaste wens om in sy All Black-ondersteunerstrui begrawe te word en vlaggies met die silwervaring op die lykswa te hê. Dit was ook sy wens dat sy begrafnis in sy geboortedorp, Ladismith, moes plaasvind.
Inwoners van Ladismith het hulle vergaap aan die lykswa met die All Black-embleem op.
Breda word oorleef deur sy vrou en drie dogters. (Deur Deon Meyer)