Een aand langs die braaivleisvuur in 1981, het Henry Walters en Ian Very met die briljante plan vorendag gekom om ’n Alfa Romeo-klub in die Oos-Kaap te stig. Met hul passie vir die mooi Italiaanse motors, wat steeds vandag van toepassing is, bestaan die klub al vir 43 jaar.
“Ons het vir Wally Schramm van Autoways, die destydse Alfa Romeo-handelaar gekontak, met die
doel om ’n Alfa Romeo-klub in die Oos-Kaap te stig, en die res, soos hulle sê, is geskiedenis,” vertel
Glenda Walters, sekretaresse van die klub.
Die Oostelike Provinsie (OP) Alfaklub beoog om ’n naweek vol avontuur, hier in Oudtshoorn te
vier. 12 motors gaan Port Elizabeth op Vrydag 9 Augustus om 08:00 verlaat, en hul bestemming
ongeveer 14:00 bereik.
“Die klomp Baaienaars het baie planne en wil graag die dorp rooi verf. Met die hulp van die
Karoo Klassique, wat ook in die dorp plaasvind dieselfde naweek, kan die dorp weer ontaard in ’n
mini fees” sê Walters.
Motors wat die naweek te sien is, is ’n mengelmoes van modelle en verskillende style, ook gesog
en skaars.
Tussendeur die vol program wat vir die groep beplan is, gaan hul ook in die middel van Oudtshoorn
se snerpende koue winter, in Karoo Retreat se swembad spring. Inwoners wat foto’s wil neem kan Saterdagoggend die gastehuis in Klein Karoostraat vroeg besoek.
Die konvooi sal ook Saterdagmiddag op die hoofpaaie van Oudtshoorn te sien wees, en dan tot
stilstand kom vanaf 13:00 op die hoek van Baron van Reede- en Voortrekkerweg.
“Die Alfaklub se manne en vroue, hoop om die harte van lesers van Die Hoorn en inwoners en besoekers van Oudshoorn, te verras met die besonderse Italiaanse wonders,” sluit Walters af.
Alfa Romeo’s in Oudtshoorn te sien
Van die Alfa Romeo-motors wat Saterdag deur die strate van Oudtshoorn te sien gaan wees. Foto: Facebook