Agt jaar vir ma wat seun doodsteek

“DIT is hartseer dat ’n kind aan die hand van sy moeder moet sterf, en die enigste gepaste vonnis is direkte gevangenisstraf.”

Dit was die woorde van die staatsaanklaer, Brandon Smith, in die saak waarin ’n vrou van Bridgton in Oudtshoorn, Ellen Mentoor (39), skuldig bevind is aan moord op haar 16-jarige seun, Clinton op 9 September 2017. Hy is op die toneel dood.

Sy is op 28 Julie deur streeklanddros Sylvia Mandla tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Mentoor se weergawe dat sy uit noodweer opgetree het, is deur Mandla verwerp omdat haar lewe nie in gevaar was nie.

Mentoor het tydens die verhoor getuig dat Clinton die betrokke dag by die huis aangekom en kos gesoek het terwyl sy besig was om haar baba te borsvoed. Hulle het gestry en hy het haar weggestoot en met die vuis geslaan en geskop. Sy het ’n mes op ’n kas gesien en wou volgens haar getuienis hom net bang maak.

Die enigste staatsgetuie en halfsuster van die beskuldigde, Bianca Jacobs, het egter getuig dat Mentoor die mes uit ’n laai gehaal en haar seun daarmee gesteek het. Volgens Jacobs het die oorledene haar weggestoot nadat sy hom geklap het. Die seun was ook ongelukkig omdat sy ma sy pa se klere aan die brand gesteek het

Jacobs is deur die hof as ’n betroubare getuie beskryf wat haar nie weerspreek het nie.

Die staat het wel toegegee dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum vonnis vir moord.

Mentoor se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat sy na haar twee ander kinders wil omsien en ’n eerste oortreder is. Sy was ook tydens die voorval onder die invloed van alkohol.

Volgens die landdros was dit egter nie ‘n geval van lewe of dood nie. Die steekwond is volgens ’n mediese verslag ook met groot geweld toegedien. (Deur Garnett Wicomb)