
93 uit 94 Hoërskool Oudtshoorn-leerders wat in 2023 hul matriek eksamen afgelê het, het geslaag. Dit is ’n groot prestasie en kan die skool spog met ’n 98,9% slaagsyfer.
Met 8 leerders wat A-gemiddeldes behaal het en 78,7% van die 2023-matrieks wat universiteitsvrystelling verwerf het, is die Hoërskool Oudtshoorn baie trots op hul 2023-matriekuitslae.
Die skool spog ook met uitstekende vakgemiddeldes in Inligtingstegnologie (81%), Musiek (76%), Engels Eerste Addisionele Taal (72,5%), Afrikaans Eerste Addisionele Taal (71,5%) en Ontwerp (71,3%). Die 8 A-kandidate van die skool is: Joané van der Westhuizen (85,29%), Ninke Griffioen (83,86%), Herman Augustyn (81,86%), Madri Botha (81,14%), Luc Pretoruis (81%), Daniel Wilck (80,57%), Patience Mawela (80,29%) en Caley Summerton (80,14%).
“Have a mind that is open to everything and attaches to nothing, that is the recipe for success and inner peace.”
“Success is more enjoyable when it is achieved by ‘us’ and not ‘I’; one team, one goal, together everyone achieves more.”
Rudolph het ook die volgende gesê: “Our school performed very well and we are so grateful. I want to convey my sincere gratitude and congratulations to our A-candidates. Our matriculants, with the support of our educators and parents worked very hard to achieve these good results. You have certainly made us proud. As Struisies has empowered you, may you always find the strength and courage to work hard to ensure a bright future.”
Die Hoorn het met die 3 toppresteerders van die skool oor hul prestasies en toekomsplanne gesels.
Joané van der Westhuizen het 5 onderskeidings behaal en ’n gemiddeld van 85,29%. Sy is ook aangewys as die Dux-leerder. Joané sê dat sy hierdie jaar gaan gebruik om eers seker te maak wat sy wil gaan studeer en met daardie kennis volgende jaar deur UNISA sal studeer.
“Ek verkies om dit so te doen omdat ek nog nie seker is oor wat ek wil doen nie en graag doodseker wil wees”, het sy aan Die Hoorn gesê.
Joané vertel dat haar gunsteling vak Engels was, waarvoor sy 90% gekry het.
Sy is mal oor plante en hekel. Sy kuier ook graag saam met vriende by ’n koffiewinkel.
Sy sal verseker die tradisies van die skool mis, en die passievolle onderwysers en hokkie.
“My toekomsdrome is om eendag gelukkig en suksesvol in my droomberoep te wees en tussendeur die wêreld vol te reis”.
Ninke Griffioen het met 5 onderskeidings weggestap en ’n gemiddeld van 83,86% behaal. Ninke gaan volgende jaar B DataScience (Data Wetenskap) aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.
“My gunsteling vak was Wiskunde, dit was die klas met die meeste ‘vibe’ en Juffrou Van der Veen wat elke dag moeite gedoen het sodat ons daarvan sal hou”, het sy vertel.
Sy hou daarvan om saam met vriende of familie te gaan stap en sê dis iets wat haar beker weer volmaak.
Sy gaan beslis die skoolgees mis en om elke dag te kan lag en gesels in klasse saam met vriende.
“Ek sal graag reis en meer van die wêreld sien as ek klaar my graad gekry het. Ek het nie ’n 5-jaar plan nie, maar ek vertrou op die Here dat ek sal wees waar ek moet wees as die tyd aanbreek”.
Herman Augustyn slaag met ’n 81,86% gemiddeld en spog met 6 onderskeidings in Wiskunde, Skeinat, Rekeningkunde, IT (Inligtingstegnologie), RTT (Rekenaartoepassingstegnologie) en LO.
Herman vertel dat hy Meganiese Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer.
Hy sê ook dat dit vir hom baie moeilik is om ’n gunsteling vak te kies omdat hy eintlik van al sy vakke gehou het, behalwe tale en LO.
“As ek egter een moét kies, sal dit IT wees”.
Op die vraag wat hy die meeste van die skool gaan mis, het hy gesê dat hy die meeste sy vriende gaan mis, maar dat hy definitief die onderwysers ook gaan mis. In sy vrye tyd hou hy daarvan om met sy 3D printer rond te speel, maar hy hou ook van videospeletjies speel en om sport te doen.
“Ek het nog nie te veel oor my toekomsdrome gedink nie.”
“Ek sal eers my studies voltooi om mee te begin en dan kyk waar die lewe my lei”, het Herman afgesluit. (Deur Lindi Brill)
