100% slaagsyfer vir Gimmies!

Gimmies se 2023 matrieks was opgewonde en baie trots daarop op hul 100% slaagsyfer. Foto: Alicia Barnard

Langenhoven Gimnasium se 2023 leerders het ’n merkwaardige 100% slaagsyfer bereik.

Die groep het Vrydag uitbundig gejuig toe die waarnemende skoolhoof, Alewyn Vorster die uitslae aankondig.

“Die klas van 2023 het die skool baie trots gemaak het,” vertel hy.

Hul het aan die begin van die 2023 skooljaar ’n beroep op die matrieks gedoen, om die skool trots te maak, en dit is sowaar wat die hulle gedoen het.

Harde werk deur die leerders en hul onderwysers is die eindproduk van hierdie prestasie, sluit hy af.

Die skool spog nie net met15 A-kandidate nie, maar ook met 171 A-simbole in verskeie vakke.

Die Hoorn het met Gimmies se Top 3 kandidate gesels oor hoe hul oor hul uitslae voel, hul toekomsplanne en wat hul die meeste en minste gaan mis.

Hanro Basson, staan eerste in matriek met ’n gemiddeld van 89,86%. Hy het ook 7 A’s verwerf.
Oor sy uitslae vertel hy dat hy meer as tevrede is. “Ek het ’n doelwit gestel, hard gewerk en dit bereik,”. Hy gaan meganiese ingenieurswese by die NWU studeer, en beplan om daar aan sport deel te neem wat hy baie geniet, en waarvoor hy nou meer tyd kan inruim.

“Ek geniet dit ook om met my motorfiets in die veld te ry om te ontspan,”.

Hanro het ook verskeie akademiese prestasies ingepalm deur sy hoërskool loopbaan, en was ’n Griffie op laerskool gewees.

Hy vertel dat hy die roosterkoeke van die tannie oorkant Checkers die meeste gaan mis van Oudtshoorn, maar glad nie die hitte nie.

“Ek wil graag vir my ouers, familie en vriende dankie sê vir hul ondersteuning asook elke onderwyser se insette. Julle het my gehelp vorm aan my karakter, en daaroor sal ek altyd dankbaar wees.” sluit hy af.

Jeanie du Plessis het tweede gestaan met ’n gemiddeld van 89,26% en ook 7 A-simbole.

“Met harde werk sal goeie vrugte afgewerp word,” en dis beslis wat sy gedoen het.

Sy gaan Aptekerswese studeer by Potch. Sy sien ook uit daarna om by NWU aan haar gunsteling sportsoorte deel te neem soos netbal en atletiek.

Jeanie het haar laerskool loopbaan by Wesbank voltooi, en sy vertel dat sy baie goeie herinneringe van die skool het.

Sy het deur haar hoërskool loopbaan verskeie prestasies ingepalm, onder andere die DUX-Leerder vir 2023 en was ook die kaptein van die o.18 Eden Netbalspan.

Nes Hanro gaan sy ook nie die hitte van Oudtshoorn mis nie, ook nie die roetine en roosters van skool nie, maar sy gaan na die lekker mense hier verlang, en al haar goeie vriendskappe wat sy oor die jare opgebou het.

“Mamma en Pappa, dankie dat julle by elke spesiale gebeurtenis en oomblik wat vir my belangrik was, teenwoordig was. Ek is oneindig dankbaar vir julle in my lewe.”

Vir elke Gimmie onderwyser sê sy baie dankie vir hulle harde werk en ure en ure se voorbereiding om hul reg te kry vir die eindeksamen.

“Dit vat regtig toegewyde onderwysers wat ’n 100% slaagsyfer moontlik kan maak. Ek sal ALTYD ’n trotse Gimmie bly!!!” sluit sy af.

Soleil van der Merwe se matriek gemiddeld was 87,14%, en nes die top twee het sy ook 7 A-simbole ingepalm.

Sy vertel dat sy positief voel oor haar uitslae, maar sy voel dat daar wel vakke is waarin sy beter wou presteer.

Sy is op pad na die Noordwes Universitieti (NWU) waar sy B.Com Rek gaan studeer. Sy speel graag Ukelele en gaan hom beslis saamneem. Sy speel ook graag hokkie en wil na skool aanhou speel.

Sy sien uit daarna om nuwe mense te ontmoet en nuwe herinneringe te maak, maar gaan haar vriendinne die meeste mis omdat hulle na verskillende universiteite gaan.

“Ek gaan eksamens en kleure atletiek die minste mis,” sê sy.

Vir haar gaan sy die klein dorpie gevoel mis en Oudtshoorn sal haar altyd na aan die hart lê, en die vriendelike mense mis wat haar op Woensdae wanneer die koshuis dorp toe gaan, gegroet het.

Sy gaan ook nie die Oudtshoorn hitte mis nie.

“Baie dankie vir almal se onder-steuning. As ek nie in myself geglo het nie was daar altyd iemand wat het- of dit nou my ma of onderwysers was.

Ek sal ewig dankbaar wees vir die impak wat julle in my lewe gemaak het.” sluit sy af. (Deur Angelique Erasmus)

’n 2023 matriek Gimmie ontvang sy uitslae by een van die onderwysers. Foto: Alicia Barnard