2023 Gimmies gee 100%!

Die 2023 Gimmies spring Vrydag, 19 Januarie 2024 opgewonde in die lug nadat hul skool ’n 100% slaagsyfer behaal het. Foto: Angelique Erasmus

Die 2023 matriek-uitslae is op Vrydag, 19 Januarie 2024 landwyd bekendgemaak.

Vir sommige matrieks was dit ’n opwindendede dag, vir ander senutergend.

Landwyd het 82,9% van alle matrieks wat die Nasionale Senior Sertifikaat Eksamens verlede jaar geskryf het met 2,8% verbeter vanaf 2022.

Die Wes-Kaap staan in die 5de plek met ’n slaagsyfer van 81,5%. Die Vry-staat het vanjaar die beste van alle provinsies gevaar met ’n 89% slaagsyfer en die Noord-Kaap se slaagsyfer op 75,8% is die laagste van al die provinsies.

Hier volg die verskeie provinsies se slaagsyfers:
Vrystaat – 89%, KwaZulu-Natal – 86.4, Gauteng – 85,4%, Noordwes – 81,6%, Wes-Kaap – 81,5%, Oos-Kaap – 81,4%, Limpopo – 79,5%, Mpumalanga – 77%, Noord-Kaap – 75,8%.

Volgens die Departement van Onderwys se 2023 verslag is daar 9 skole in die Wes-Kaap met ’n 100% slaagsyfer.

Die Klein Karoo val onder die Eden, Karoo Distrik, wat ’n 84,6% slaagsyfer het, en twee skole met ’n 100% slaagsyfer.

David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, het 2023 se matrieks gelukgewens en sê hulle het geslaag ondanks die talle uitdagings wat verskeie skole die jaar in die gesig gestaar het.

Die Klein Karoo se skole het goed gevaar, hier volg die Klein Karoo se persentasies:
Langenhoven Gimnasium – 100%, Shalom Akademie – 100%, Hoërskool Oudtshoorn – 98,9%, Hoërskool Ladismith – 93,8%, Bridgton Sekondêr – 87%, Hoërskool Calitzdorp – 86,7%, Hoërskool Protea – 83,3%, Fezekile Sekondêr – 80,7%, Ladismith Sekondêr – 78,9%, Hoërskool Môrester – 75,1%, De Rust Sekondêr – 71,4%, Dysselsdorp Sekondêr – 69%, Aurial Kollege – 53,6%.

Langenhoven Gimnasium het ’n merkwaardige 100% slaagsyfer bereik vanjaar, teenoor 2022 se 98,1%.

Alewyn Vorster, waarnemende hoof van Langenhoven Gimnasium het aan Die Hoorn gesê dat, die klas van 2023 die skool baie trots gemaak het.

“Ons het die matrieks aan die begin van hul jaar gevra om ons trots te maak, en dit is presies wat hulle gedoen het.” sê hy.

Die uitstekende uitslag van 100% spreek boekdele van die harde werk wat ons leerders sowel as die onderwysers ingesit het om hierdie merkwaardige prestasie te lewer. “Ons is sowaar baie trots op hulle.” sluit hy af. Gimmies spog ook met 15 A kandidate.

Hoërskool Oudtshoorn spog weereens met puik matriekuitslae vir 2023 waar 93 van die 94 leerders wat die eksamen afgelê het, geslaag het, vir ’n 98,9% slaagsyfer. Hul slaagsyfer het met 1,8% verbeter teenoor 2022.

“Struisieland is vir seker die tuiste waar gelukkige leerders suksesvol is,” sê mnr. Gerrit Rudolph, skoolhoof van Hoërskool Oudtshoorn.

Rudolph sê sy boodskap aan die skool se oudleerders en ook die huidige en toekomstige Struisies is om altyd geleenthede met die regte gesindheid te evalueer.

Agt van hul leerders het A-gemiddeldes behaal. Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester Chris Macpherson, het Vrydag Hoërskool Môrester besoek en die matrieks toegespreek voor hul, hul uitslae ontvang het.

“Om te dink na 12 jaar maak julle uiteindelik met julle skoolloopbaan klaar, en dis die einde van ’n mylpaal,” het hy gesê. Oudtshoorn is trots op julle het hy bygevoeg.

Ten spyte van ’n hartseer jaar vir hierdie skool met die verlies van drie leerders, het hul steeds goed presteer met ’n slaagsyfer van 75,1%. Die matrieks van 2023 kan beslis trots wees, en het die streek se naam hoog gehou.

Die Hoorn wens elkeen sterkte toe vir die blink toekoms wat vir hulle voorlê!