Agri Klein Karoo kry nuwe naam tydens kongres

Van links: Laubscher Coetzee (vorige AWK Streekbestuurder: Streek 16), Villiers Loubser (AWK president), Janse Rabie (gaspreker) en Louis Wessels (AWK bestuurder van regsdienste). Foto: Angelique Erasmus

Agri Klein Karoo sal voortaan bekendstaan as Klein Karoo Landbou. Dié besluit is op Donderdag 27 Februarie tydens Agri Wes-Kaap se jaarlikse streekkongres op Oudtshoorn goedgekeur.

Die provinsiale minister van landbou, Ivan Meyer, het ’n videoboodskap gestuur om boere in die Klein Karoo sterkte toe te wens.

Volgens Villiers Loubser, president van Agri Wes-Kaap, fokus hulle op transformasie, natuurlike hulpbronne, kommunikasie, arbeid, kommersieel en landelike veiligheid.

“Agri Wes-Kaap het ’n WhatsApp-nommer spesifiek vir landelike veiligheid, waarop boere enige voorvalle kan aanmeld en hulp so gou as moontlik verskaf kan word,” het hy gesê.

Daar is ook ’n toegewyde radiofrekwensie. Meer inligting hieroor is beskikbaar op hul webtuiste. www.awk.co.za Die WhatsApp-nommer is 079 969 0045.

Onteiening was ook ’n vurige onderwerp wat tydens die vergadering aangespreek is en deur Louis Wessels, bestuurder van regsdienste, meer in diepte verduidelik is. Volgens Wessels is georganiseerde landbou gekant teen die Onteieningswet. “So ʼn proses kan tot 18 maande duur om af te handel, mits daar geen komplikasies sou wees wat die proses kan vertraag nie, maar grond kan nie net gevat word nie en die nuwe Onteieningswet is steeds onderhewig aan die grondwet,” sluit Wessels af.

Boere onder 40 jaar is ook aangemoedig om in te skryf vir die Jong boer van die jaar kompetisie. Meer inligting is beskikbaar op Agri SA se webtuiste, www.agrisa.org.za.

Die gasspreker, Janse Rabie, het die onderwerp van volhoubare landbou boerdery aangeraak.

Tydens die vergadering is Laubscher Coetzee bedank vir sy jarelange betrokkenheid en leierskapsrol wat hy in georganiseerde landbou op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak speel. Hy was onder andere die streeksbestuurder van Agri-Wes-Kaap se Streek 16. Die nuwe streeksbestuurder is Stefan Smit.

Behalwe vir landbouverteenwoordigers, is vanjaar se streekongres ook deur rolspelers van die munisipaliteit, provinsiale verkeer, SAPD en die weermag bygewoon.

Be the first to comment on "Agri Klein Karoo kry nuwe naam tydens kongres"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*