Die opruiming van die Grobbelaarsrivier is hierdie week gestaak terwyl daar gewag word vir ʼn verlenging van toestemming van die departement van omgewingsake. Die burgemeester, Johan Allers, het verlede week gesê die permit was tot 28 Februarie geldig en aansoek om verlenging van die permit is gedoen.
Daar het egter intussen ’n kwessie opgeduik wat die uitreiking van ’n verdere permit kan beїnvloed. Allers het hierdie week bevestig dat sy kantoor ’n skrywe van Gavin Benjamin, direkteur ontwikke-lingsbestuur by omgewingsake van die Wes-Kaap ontvang het waarin gesê word dat ’n klagte ontvang is oor die werksaamhede in die rivier.
Volgens Allers het twee partye reeds op 29 Januarie die klagte ingedien en volgens inligting handel die klagte oor die gedeelte by Rademeyerstraat wat skoongemaak is. “Dit is jammer dat die departement ons nie onmiddellik van die klagtes ingelig het nie. Ons het sewe dae voordat ons permit verval het, aansoek gedoen vir ’n verlenging en toe word ons op 28 Februarie in kennis gestel dat daar ’n ondersoek is,” het Allers gesê.
Volgens hom het hy nog nie al die relevante dokumentasie ten opsigte van die klagtes onder oë gehad nie. Hy sê die munisipaliteit sal ’n besluit oor die pad vorentoe neem sodra hulle alle inlig-ting ontvang en bestudeer het. Met die ter perse gaan, het Die Hoorn nie verdere inligting ten opsigte van die klagtes of deur wie dit aanhangig gemaak is, bekom nie. (HANNIES VISSER)
Werk aan die rivier eers gestaak

Be the first to comment on "Werk aan die rivier eers gestaak"