Aggressie en stres in die tyd van Covid-19

Foto ter illustrasie.

DIE Covid-pandemie is nog lank nie verby nie, en al word groepe inwoners regoor Suid-Afrika tans ingeënt, eis die virus steeds sy tol – nie net ten opsigte van ons gesondheid, vryheid en beursies nie, maar ook ten opsigte van ons emosionele welstand.

’n Ontstelde en besorgde inwoner van Oudts­hoorn het verlede week by Die Hoorn kom aanklop en vertel hoe sy die oggend gesien het ’n man sy vrou en kinders vir bykans geen rede skel nie.

“Ek dink mans word veral tans geweldig deur die pandemie geaffekteer – hul stresvlakke en gepaardgaande aggressie is besig om amok te saai in gemeenskappe regoor Oudtshoorn. Hulle haal dit op hul vroue, kinders en selfs troeteldiere uit.

Ek glo die kwessie moet aangespreek word, want niemand – man of vrou – weet hoe om hierdie onbekende tyd se stres te hanteer nie,” het die vrou, wat gevra het om anoniem te bly, gesê.

Lees ’n mens oor dié kwessie op, vind jy dat mense wêreldwyd tans sukkel om hul stres- en aggressievlakke te hanteer. So het Business Insider onlangs berig oor lugwaardinne in die buiteland wat ’n toename in aggressie onder passasiers bespeur het, onder meer ten opsigte van Covid-19 en die dra van maskers.

Die Hoorn het dr Clifford van Wyk, ’n psigiater van Oudts­hoorn, genader vir sy kommentaar. Van Wyk stem saam dat hierdie ’n uiters belangrike onderwerp is waaroor berig moet word. Hy het die volgende perspektief verskaf.

“Covid veroorsaak ongekende stresvlakke in ons gemeenskappe, vanweë soveel faktore wat sedert Maart 2020 op ons losgelaat is,” sê Van Wyk.

Hy lys faktore soos die bedreiging wat dit inhou vir ons eie lewens asook die lewens van geliefdes; die skielike verandering in ons manier van lewe, ons interaksie met andere, kinders wat nie meer soos voorheen altyd skoolgaan nie en ouers se gevolglike kommer oor die agterstande in hulle skoolopleiding.

“Daar is ook die verlies aan inkomste, werksverliese, finansiële stres; die verlies van lewens van geliefdes; inperking in ons bewegingsvryheid, en eensaamheid; konstante waaksaamheid dat ons nie geïfekteer moet word nie; en soveel ander angs-genererende faktore direk weens Covid,” sê hy.

Die feit dat Covid so baie van wat mense as ’n normale bestaan beskou het, weggeneem het, is dit volgens Van Wyk een van die grootste bykomende faktore van die stres wat mense tans ondervind.

Van Wyk sê dat aggressie – nes angs, depressie, slaapsteurnisse, verlies of toename in eetlus, konsentrasieprobleme en somatiese klagtes van hoofpyn, spierspasmas, buikklagtes, hartkloppings en benoudheid – deel van spanningsimptome kan wees.

Dit gaan volgens hom hand-aan-hand met frustrasie, geïrriteerdheid, woede en impulsbeheer-probleme.

“Met ons toename in stres weens Covid, is die toename in mikro-aggressie en selfs growwe aggressiewe gedrag eintlik te verwagte. Hierdie stresverwante aggressie is dan ook gerig teenoor die meer kwesbare lede van ons gemeenskappe, naamlik vroue, kinders, diere en dié wie nie in ‘my omgeesfeer’ val nie.”

Van Wyk sê dié aggressie is dan nie net op ’n individuele vlak tussen twee persone nie; “maar ek vra myself af hoeveel het ons Covid-verwante spanning en frustrasies nie dalk onderbewustelik ook bygedra tot die onvolwasse groepsaggressie by byvoorbeeld die Brackenfell-skool en meer onlangs by die Witbank Tegniese Hoërskool nie.”

Uit sy ondervinding met pasiënte, sê Van Wyk, is sy afleiding dat dit ook gaan oor die frustrasie-drempel wat oorskrei is as gevolg van die Covid-pandemie en alles wat daarmee saam op mense neergedaal het, in kombinasie met hulle individuele persoonlike hindernisse.

“En, as ek my kop so vêr mag uitsteek, frustrasie-drempels van nie net mans nie, maar ook van vroue, is deur Covid tot die uiterste getoets in baie persone.”

Die vraag bly nou; Wat kan ons hieraan doen?

Die Hoorn berig in die volgende uitgawe van Die Hoorn verder oor die hantering van aggressie en stres. Volgens Van Wyk kom dit neer op die hantering en bestuur van stres en woede, asook kommunikasie. (Deur Stefan Skapie Goosen)