Beskerm jou so teen Covid-19

Helen Human, die Departement Ge­sondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik, gister binne die Toekomsrus Gemeenskapsaal waar inentings voortaan in Oudtshoorn plaasvind. Foto: Stefan Skapie Goosen

Wees versigtig vir sosiale byeenkomste waar ’n ‘infeksieketting’ kan begin
SOSIALE byeenkomste (van begrafnisse tot koffie en tee met familie of vriende) is plekke waar die virus versprei.

Sonder dat jy daarvan bewus is, kon jy die virus aangesteek het terwyl jy tyd deurgebring het met vriende of familie. As jy dan terugkeer huis toe, werk toe, skool toe, of bejaardes en siekes besoek, loop al hierdie mense met wie jy in aanraking gekom het nou ook die risiko om aan te steek.

Op hulle beurt gaan hierdie mense ook huis toe en werk toe en voort met hul daaglikse roetine. Hier kan kollegas en familie en ander mense weer by dié hulle aansteek, en so word die virus na al hoe meer mense oorgedra.

Beskerm jou persoonlike ruimte
• Vermy groot byeenkomste.
• Vermy byeenkomste met mense buite jou huishouding.
• As jy moet uitgaan, dra ’n masker.
• As jy met mense moet vergader, doen dit buite en hou dit kort.
• As jy binne moet vergader, trek warm aan en hou vensters oop vir vars lug.
• Bly tuis as jy siek voel!

Inenting beskerm teen ernstige siekte en dood – syfers bevestig dit!
Resultate toon dat die Covid-19-entstof uitstekende beskerming teen ernstige siekte en die dood bied. Die entstof bied jou egter geen waarborg dat jy nie Covid-19 sal kan opdoen of dit aan ander kan oordra nie. As jy dus die inenting ontvang het en nie veiligheidsmaatreëls nakom nie, kan jy steeds Covid-19 opdoen (hoewel jy nie ernstig siek sal word nie) én dit aan ander oordra.

Inentings in Groter O’hoorn, Kannaland
Op Oudtshoorn vind inentings sedert (Woensdag) in die Toekomsrus Gemeenskapsaal plaas. So lyk vandeesweek se inentingslokale en verdere datums in die Groter Oudts­hoorn en Kannaland:
• Oudtshoorn Toekomsrus Gemeenskapsaal 24 en 25 Junie
• De Rust (Blomnek Kliniek) 24 Junie
• Van Wyksdorp Kerksaal 25 Junie
• Calitzdorp DRC Kerksaal 24 Junie

Winde: Wes-Kaap kan derde golf hanteer

Wees veral versigtig as jy ’n hoë risiko het om erge Covid-19 te kry – ouer mense asook diegene met diabetes en hoë bloeddruk, sê Alan Winde, premier van die Wes-Kaap. Hy sê die Wes-Kaap is gereed om groter getalle mense in te ent, maar is verlede week slegs 49 140 dosisse entstof vir die provinsie ontvang – minder as verwag – wat dié week gebruik word.

Volgens Winde het die Wes-Kaap voldoende hulpbronne om die derde golf van Covid-19-infeksies te hanteer. Daar is genoeg suurstof beskikbaar in die pro­vinsie, en nog 717 gesondheids­werkers en ondersteuningsperso­neel aangestel om bystand te ver­leen met Covid-behandeling en inenting.

Die Oudtshoord Munisipaliteit het vandeesweek mense aangemoedig om dadelik mediese hulp te kry as hulle siek voel, en tuis te bly as hulle siek is of in anraking was met ’n positiewe geval.

Covid-syfers soos op Woensdag 23 Junie 2021

Aantal inwoners: 2020-syfers op www.westerncape.gov.za) Tabel: Heinrich Bosman