TWEE begaafde jong inwoners van die streek, Marlene Vlok en Sulayman Human, het ’n geesdriftige gehoor verlede Donderdag (24 Junie) in die Klein Karoo Emporium op Oudtshoorn bekoor met hul uitvoering van werke van Mozart, Brahms, Schumann en Barber.
Die konsert is deur die Oudtshoorn Kunstevriende aangebied, ’n liggaam wat in April 2018 op die been gebring is om te voldoen in die vraag na goeie musiek op Oudtshoorn.
Marlene en Sulayman is albei trotse uitvoerprodukte van die Hoërskool Oudtshoorn en Universiteit Stellenbosch.
“Die program is saamgestel om die gehoor aan ’n verskeidenheid van klanke en musiek bloot te stel,” sê Sulayman. “Dit was so lekker vir my en Marlene, wat albei onder Nina Schumann en Luis Magalhães gestudeer het, om weer saam ’n uitvoering te kon hou.”
Albei vertel dat die Covid-19-pandemie hul toekomsplanne beïnvloed het. Marlene, wat verlede jaar die graad B Mus voltooi het, se droom om verder te studeer, moontlik in Frankryk of Amerika, moet nou eers wag, terwyl Sulayman, wat in 2014 gegradueer het en die graad M Mus op ys gesit het toe hy heelwat nasionale optredes gedoen het, steeds droom om verder te studeer, moontlik in die kultuurryke Duitsland.
Tans hou Marlene haar besig deur agtergrondmusiek by privaatfunksies of geleenthede te verskaf, terwyl Sulayman sorg dat hy in oefening bly vir nog uitvoerings wat oor sy pad mag kom. Hulle kan gekontak word by 076 825 9158 (Marlene) of 081 000 3854 (Sulayman).
Volgens AnneLise Vlok, een van die organiseerders van die musiek-aande, word dié geleenthede baie goed bygewoon. “Ek dink mense is uitgehonger om konserte self te kan bywoon. Dit is net soveel anders as aanlynvertonings. Vir ons is dit ver-blydend dat plaaslike inwoners plaaslike talent so goed ondersteun, veral in hierdie moeilike kunstetye.”
Vir meer inligting oor volgende konserte van die Oudtshoorn Kunstevriende, kontak Antoinette le Roux (084 567 1030) of Anne Lise Vlok (072 592 3928).
Groot applous vir Sulayman en Marlene
Sulayman Human en Marlene Vlok. (Foto verskaf.)