Danksy CJ Langenhoven se deursettingsvermoë en stryd vir Afrikaans is dit op 8 Mei 1925 deur die parlement as amptelike landstaal naas Engels verklaar. Met die oog op die amptelike verjaarsdag van Afrikaans word daar reeds oor die hele land heen projekte geloods en boeke gepubliseer om die eeu van Afrikaans te vier.
Die Hoorn het verlede week berig dat die Arbeidsgenotkomitee wat op 5 April in die lewe geroep is, hard werk om ook hier op Oudtshoorn by Arbeidsgenot, Langenhoven se huis, ʼn viering van Afrikaans se eeu te hou.
Die komitee het verlede Maandag hul tweede vergadering gehad en solank ’n konsepprogram vir 8 Mei saamgestel. Die tye is nog nie gefinaliseer nie, maar inwoners kan solank plek op hulle kalender maak vir dié dag se verrigtinge.
Daar word beplan om Arbeidsgenot vir vier of vyf toere onder leiding van ʼn gids oop te stel deur die loop van die dag. Vir die middag word skole se hoofleiers genooi na ’n kort seremonie wat ‘n praatjie, vlaghysing en aanplant van katjiepieringstruike behels.
Met die aandprogram is die bekende akteurspaar, Lida en Johan Botha genooi om voorlesings te doen. Daar sal ook ’n praatjie wees oor Afrikaans en Langenhoven se rol.
Tradisionele verversings soos melktert sal bedien word. Omdat plek in die Neelsie beperk is, word slegs 100 kaartjies teen ʼn donasie van R30 per persoon gedruk.
Die kaartjies sal vanaf Dinsdag 21 April beskikbaar wees by Die Hoorn, Oudtshoorn Courant en die KKNK-kantoor by Arbeidsgenot.
Hierdie is die ideale geleentheid vir inwoners met ’n liefde vir Afrikaans en vir die erfenis van Oudtshoorn om deel te wees van die vieringe.
Vir enige navrae skakel Hannes Visser (093 467 1522) of Suzette Basson (081 709 9908). (HANNES VISSER)
Afrikaans as amptelike landstaal word 100 jaar
Arbeidsgenot, die woning van CJ Langenhoven op Oudtshoorn. Foto: Hannes Visser