Splinternuwe Karoo Markt maak deure oop oor minder as ’n week

Die laaste afrondingswerk vind tans plaas by Karoo Markt, die splinternuwe winkelsentrum wat op 24 April sy deure oopmaak. Foto: Knipoog Fotografia

By die nuwe Karoo Markt in Rademeyerstraat word nie gewerk dat die spoeg spat nie, maar dat die daadwerklike stof trek.

Dit het hierdie week gewemel van werkers wat binne minder as tien dae die laaste afwerkings moet voltooi.

Teëls word gesny en gelê, meer as 100 bome word geplant, naamborde word opgesit en rakke word geïnstalleer en volgepak. Oudtshoorn se langverwagte Karoo Markt-winkelsentrum gooi amptelik oor ses dae hul deure oop vir die Klein Karoo en om by daardie spertyd te hou moet in erns gewoel word.

Inwoners kan uitsien na ’n enorme Checkers met ’n Krispy Kreme en Starbucks-kiosk binne-in. Daar is ook ’n Checkers Outdoor, Checkers Little Me en Checkers Liquor.

Buiten die Checkers-winkels pronk die volgende winkels ook volgende week in Karoo Markt:
Food Lovers Market en Drankwinkel, Cape Union Mart, Dischem, Woolworths klere en koswinkel, Senqu klerewinkel, Neovision, Pick n Pay Clothing, De Jagers, Pep, Ackermans, Male Ego, Out of the Blue, Truworths, Mr Price, Crazy Store, Milady’s, Techno Stop, Pet Shop Sience, Refinery, Ocean Basket, Mug & Bean, Tobacco Shop, Vuse, Top Stitch, Sheet Street, Wimpy en Seattle Coffee Co.

Van die interessante statistieke vir die bou van die inkopiesentrum is dat meer as 2,3 miljoen stene gebruik is om die gebou op te rig.

Meer as 700 000 plaveiselstene is in die parkeerplekke en ryvlakke aangebring en tydens die oprigting van die sentrum is meer as 2 000 werksgeleenthede geskep.

Karoo Markt open om 09:00 op Donderdag 24 April en is sewe dae per week vanaf 09:00 tot 18:00 oop. (ANGELIQUE ERASMUS)